Onrus op verskeie vlakke in gimnastiek

Nadat ’n afrigter die NGF-president van nepotisme beskuldig het, dagvaar sy die afrigter nou vir die skending van haar menswaardigheid en aansien.
Andrew Poolman
Kristien Kruger en Andrew Poolman

Die uitvoerende president van Namibië Gimnastiek (NamGym) dagvaar ’n klubafrigter vir N$100 000, plus regskoste, omdat sy haar van nepotisme beskuldig het.

Me. Sonja Olivier, wat ook volhou dat sy steeds die Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF) se regmatige president is, dagvaar een van die afrigters by die Walvisbaai gimnastiekklub omdat sy glo ’n e-pos aan uitvoerende raadslede van die NGF en ander lede binne die gimnastiekgemeenskap gestuur het wat glo haar menswaardigheid en reputasie geskend het.

Die verhoor het gister voor regter Esi Schimming-Chase in die hoërhof in Windhoek hervat.

In die e-pos wat die Walvisbaaise afrigter me. Roumiana Kostin op 15 Mei 2019 uitgestuur het, het sy uitgewys hoe Olivier na bewering spesiale behandeling vir haar dogters geëis het.

“Ek het die e-pos aangeheg waar sy my genader het om toestemming te kry dat haar dogters die oefenkamp bywoon met die wete dat die sluitingsdatum verval het.

“Toe hierdie versoek geweier is, het sy na die saal gekom om ons te intimideer en te dreig. Sy het my en die ander afrigters van diskriminasie teen haar kinders beskuldig,” lui die oorspronklike e-pos wat Kostin gestuur het.

Volgens Kostin was dit nie die eerste keer dat Olivier ten gunste van haar kinders optree nie. Sy het glo in die verlede ’n waarskuwing gekry omdat sy as beoordelaar na bewering verkeerdelik en in die guns van haar kinders beoordeel het.

Kostin beweer dat sy die e-pos by ’n gepaste geleentheid as ’n formele klag teen Olivier ingedien het om ’n ernstige en relevante saak aan te spreek.

“Ek kan jou verseker dat Olivier nou alles in haar vermoë sal probeer om my te viktimiseer en openlike vyandig teenoor my op te tree sonder om enige poging aan te wend om haar verantwoordelikheid as president te erken,” het Kostin haar e-pos afgesluit.

Olivier eis dat Kostin ’n skriftelike verskoning aan haar en al die korrespondente van die e-pos moet stuur.

Kostin ontken dat sy die e-pos gestuur het met die opset om Olivier te belaster en weier om verskoning te vra.

‘VOORTDURENDE VETE TUSSEN FAKSIES’

In Olivier se hoofbetoë stel sy dat Kostin die e-pos gestuur het met die doel om haar leed aan te doen.

“Sy het nie geweet of die stellings waar was of nie, maar het nogtans voortgegaan om dit te publiseer. Die publikasie is nie gemaak in die nastrewing van ’n formele klag by ’n gepaste geleentheid nie, maar slegs om die eiser te benadeel,” lui die hofstukke.

Volgens Olivier is die lasterlike publikasie deel van ’n voortdurende vete tussen faksies in gimnastiek in Namibië.

NAMGYM LOOP BLOUTJIE

Die feit dat die Namibiese Sportkommissie in Mei vanjaar nasionale kleure aan twee gimnaste toegeken het om in die buiteland te gaan meeding, verander niks aan die werklikheid dat Namibië Gimnastiek (NamGym) nie by die Sportkommissie geaffilieer is nie.

Só het die appèlkomitee van die Namibiese Sportkommissie bevind toe hy ’n aansoek – op 1 November gerig deur die gimnastiekklubs Swakopmund en Elite – Woensdag van die hand gewys het.

Die appellante het die Sportkommissie, die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee en Statebondspelevereniging (NNOC/CGA) en agt ander respondente aangevat met ’n aansoek dat die vergadering wat die Sportkommissie op 4 Oktober belê het, buite die mandaat van die Sportkommissie is en dat die besluite van daardie vergadering ongeldig moet wees.

Hoewel NamGym, met me. Sonja Olivier as president, daarop aanspraak maak dat die Namibiese Gimnastiekfederasie (NGF) in Desember 2020 sy grondwet gewysig het om voortaan op die nuwe naam bekend te staan, dring die Sportkommissie daarop aan dat die NGF die sport se enigste regmatig geaffilieerde beheerliggaam is.

Die appèlkomitee skryf op bl. 19 van hul bevinding: “’n Wysiging is in wese ’n regstelling. Die verandering word deel van daardie grondwet, waarna dan verwys word as die grondwet, soos gewysig. Dis jammer die appellante gebruik die benamings van ‘vorige’ en ‘huidige’, want dit wil voorkom asof NamGym ’n grondwet het en dit moet dan aanvaar word dat NamGym nie dieselfde liggaam as die NGF is nie, soos wat deur die appellante voorgehou word.”

Die drie lede van die appèlkomitee, dr. Donovan Zealand, me. Loini Ndilimeke Shikale-Ambondo en dr. Marius Kudumo, het die appellante se aanname verwerp dat die Sportkomissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, openlik bevooroordeeld teen Olivier is.

“Daar is geen titteltjie bewys voorgelê dat die hoofadministrateur op enige wyse opgetree het met ’n neiging of vooroordeel ten gunste óf tot nadeel van me. Olivier, op ’n wyse wat as onregverdig beskou kan word nie.”

Die appélkomitee is dus tevrede dat die Sportkommissie se besluite soos geneem op 4 Oktober 2021 binne sy mandaat is en dat die spesiale raadsvergadering regmatig saamgestel was met die meerderheid van die lede.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!