u2018Ons gaan nu00earensu2019
u2018Ons gaan nu00earensu2019

‘Ons gaan nêrens’

Boere sê hulle is wettiglik deur die tradisionele owerheid hervestig.
Catherine Sasman
ont face="Verdana" >

Catherine Sasman – Hervestigde families op die plaas Okongava No. 72 is ontstoke nadat die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, verlede week in die parlement gesê het hulle is nie wettiglik daar nie.

Die families is op die plaas van 15 160 hektaar hervestig ná ‘n aanvanklike ooreenkoms tussen die ministerie en die Tsoaxudaman- tradisionele owerheid dat die plaas gebruik kan word om die grense van Otjimbingwe, een van die kleinste kommunale gebiede in die land, uit te brei.

Die families sê nou Nujoma jok deur die verswyging van dié ooreenkoms, en het onderneem om nêrens heen te gaan alvorens die regering hulle nie van ‘n alternatiewe, aanvaarbare heenkome voorsien nie.

Mnr. Apius Auchub, president van die United Democratic Party (UDF), het Nujoma in die parlement gevra hoekom hy op ‘n vroeëre besluit teruggegaan het om die plaas aan die Tsoaxudaman-owerheid vir die uitbreiding van Otjimbingwe toe te ken.

Volgens Nujoma het die owerheid eienaarskap van die plaas in Desember 2014 geneem – oënskynlik sonder enige opdrag van die ministerie.

Hy het gesê kampe wat deur die owerheid aan ‘n aantal Otjimbingwe-boere toegeken is, is ook sonder die goedkeuring en kennis van die ministerie gedoen.

Nujoma sê die ministerie het sedertdien onsuksesvol deur die kantoor van die aanklaer-generaal probeer om uitsettingsbevele tot uitvoering te bring.

Van die bestaansboere dring daarop aan dat hulle regmatig op Okongava hervestig is en sê hulle gaan daar bly.

“Ons gaan nêrens, ons gaan nie ‘n voet versit nie,” het een van die boere, wat anoniem wil bly, gesê.

“Minister Nujoma moet ons nie dreig deur te sê ons is onwettig hier nie. Hy moet die tradisionele owerheid gaan vra wat ons hier geplaas het. Hy moet ook nie die briewe vergeet wat hy aan die tradisionele owerheid gestuur het nie.”

Die Tsoaxudaman-hoofman, mnr. Joseph Neumbo, het beklemtoon die gevestigde boere sal nie trek nie.

“Die mense wat daar is, is wettig daar. Hulle is Namibiërs van die Otjimbingwe-gebied en hulle gaan daar bly,” het Neumbo gesê.

Ná die aankoop van die plaas in 2014 is dit op grond van mynbelange in kleiner dele opgedeel.

“Ons glo hulle het besef daar is minerale op die plaas en hulle wil voordeel daaruit trek. Hulle ontneem ons nou en bevoordeel die elite. Hoe lank gaan die armes nog aan die hand van ons eie regering ly, as net die elites hervestig word of eklusiewe prospekteerlisensies kry?” het die bestaansboer gevra.

In April 2014 het die voormalige minister van grond, mnr. Alpheus !Naruseb voorgestel dat die plaas wat toe net aangekoop is, “beskikbaar gestel word vir die uitbreiding van die Otjimbingwe- kommunale gebied”.

!Naruseb het toe gesê die nodige reëlings sal getref word om die plaas in die Staatskoerant tot kommunale gebied te verklaar.

Op 10 August 2015 het die nuwe minister van grond (Nujoma) aan die goewerneur van die Erongostreek, mnr.

Cleophas Mutjavikua, geskryf die ministerie is in die finale fase van die proses en daar is tegniese prosesse wat afgehandel moet word.

“Die hoop is dat wanneer dit afgehandel is, die plaas die gemeenskap van Otjimbingwe sal bevoordeel deur die druk op weiding te verlig en die algemene opeenhoping van inwoners in die gebied te verminder. Die ministerie wil die plaas ook aan suksesvolle boere toeken, sowel as dié in die Otjimbingwe-gebied met ‘n groot getal lewende hawe om die voortdurende weidings- en ander uitdagings te trotseer,” het Nujoma in sy brief geskryf.

Die Tsoaxudaman-owerheid het in 2015 begin met die hervestiging van ten minste 28 families in verskillende kampe op die plaas.

Op 15 Januarie 2016 het die ministerie die plaas vir hervestigingsdoeleindes geadverteer.

Die ontslape hoofman Betuel Haraseb het sy skok en teleurstelling hieroor uitgespreek en Nujoma gevra om die advertensie te onttrek.

Die gemeenskap het vir ’n vergadering met president Hage Geingob gevra en is na die voormalige visepresident, mnr. Nickey Iyambo, verwys, wat beloof het om die kwessie met die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila op te neem.

Kuugongelwa-Amadhila het toe op 24 Augustus 2016 ‘n brief aan hoofman Haraseb geskryf om te sê die oordrag van die plaas aan die gemeenskap geniet die aandag van die minister van grondhervorming.

Tóg het die bestaansboere in Maart 2017 uitsettingsbevele van die aanklaer-generaal se kantoor ontvang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!