Ons hoop vir nuwe oplossings
ERNST HASHAGEN SKRYF:
Hierdie jaar is ons dertig jaar polities onafhanklik.
Die Bosoorlog is beeïndig, ’n uitstekende Grondwet is saamgestel en ’n vreedsame verkiesing het plaasgevind. Nuwe leiers is verkies en hulle het die opdrag aanvaar om ons land op 'n verantwoordelike wyse te lei.
Die vorige bedeling het mediese versorging, goeie infrastruktuur en ’n onderwysstelsel nagelaat wat by die nuwe ontwikkelinge aangepas kon word. Die buiteland het Namibië in sy strewes ondersteun.
Ontwikkeling is in die eerste jare oor die algemeen positief aanvaar. En tot vandag lewe ons in ’n land waar die bevolking, ten spyte van soms ondraaglike toestande, vreedsaam is. In baie ander lande in Afrika het bloedige burgeroorloë na onafhanklikheid uitgebreek en is soms tot vandag nog aan die gang.
Dertig jaar later sien ons egter dat ons beter kon doen.
ONDERWYS BLY DIE SLEUTEL
Die belangrikste ministeries in enige demokratiese land is onderwys en gesondheid. Sonder goeie onderwys en opleiding kan geen land suksesvol wees nie.
Ek haal aan uit Henriette Lamprecht se artikel van 24 Januarie 2020: “Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het die Nasionale Veilige Skole Raamwerk in 2018 van stapel gestuur, wat elke skool verplig om ’n leerlingvriendelike ruimte te skep, waar ’n leerling kan ontwikkel om sy of haar volle potensiaal te bereik." Ten spyte van hierdie wonderlike doelwit sit baie van ons leerlinge in tente, oorvol klaskamers, onder bome en in skole waar die basiese benodighede, soos elektrisiteit en water, skoon toilette en waskamers, min of geen handboeke aan die orde van die dag is.
Elke jaar is daar ’n geskarrel vir plekke in skole, en dit die afgelope 27 jaar.
Is dit moontlik dat onderwysbeplanners nie lank voor die tyd begin met deeglike beplanning nie? Die ministerie kan voor die tyd uitwerk hoeveel leerlinge plek soek. Hulle moet net na die vorige jaar se getalle kyk en dit dan aanvul met ’n geskatte aantal leerlinge.
As daar nie genoeg skole is nie, moet nuwe skole gebou word. Ons vriende, die Chinese, kry dit reg om binne enkele dae ’n hospitaal vir meer as 1 000 mense op te rig. Hulle kan ons help.
City of Windhoek sny die water en elektrisiteit van staatskole in Windhoek af omdat die staat nie die rekeninge betaal het nie. Leerders verloor kosbare onderrigtyd. Is die parlementsgeboue se rekenings stiptelik betaal? Sou CoW hulle water en elektrisiteit ook afsny? Ek vra maar net.
Die gekerm oor te min geld is afgesaag. As al die geld wat deur wanadministrasie, blatante diefstal en goed organiseerde diefstal (korrupsie) uit die staatskas verdwyn het terugbetaal kan word, is daar genoeg geld om aan die basiese behoeftes van ons skoolgaande jeug te voorsien. Daar sal genoeg oorbly om ook ons mediese versorging drasties te verbeter.
WAAK TEEN DIE ROTTE
Die Nasionale Vergadering is van 76 tot 104 lede vergroot en die Nasionale Raad van 26 tot 42 lede. Daarby kom allerhande raadgewende lede soos die ”A–Team“. Dit kos alles baie belastinggeld.
Die vraag is of al hierdie veranderings tot die oplossing van ons probleme bygedra het. Indien wel, het ons as belastingbetalers seker die reg om ingelig te word.
’n Voormalige Chinese leier, Deng Xiaoping, het die volgende gesê:“Dit maak nie saak of die kat wit of swart is nie, solank hy net die rotte vang."
Rotte is gevaarlik. Hulle vermeerder baie vinnig en dit is moelik om hulle uit te roei. Hulle help mekaar en verberg hulle gesteelde voorrade baie slim. (Soms word dit selfs in die buiteland weggesteek.)
’n Paar rotte is, met die hulp van die buiteland, in Namibië gevang, maar dit is maar die oortjies van die seekoei.
Ons jeug is ons belangrikste bate, maar dit word blykbaar nie besef nie. Jong mense wat hulle universiteitstudies suksesvol afgelê het, is werkloos (70 000) en as hulle hul dan krities en soms en ook beledigend teenoor leiers uitspreek, word hulle deur die polisie gewaarsku.
Respek kan nie afgedwing word nie. Respek word verdien. Nie deur die besit en vertoon van luukse wonings, motors of duur kleding nie, maar deur dade.
Ons dink byvoorbeeld aan baie mense in Katatura wat ten spyte daarvan dat hulle self baie arm is alles doen om ander te help.
ERKEN DIE GOEIE
Gelukkig is daar nog prominente mense in ons land wat die probleme ken, dit aanspreek en help waar hulle kan.
Ons Eerste Dame ondersteun baie projekte wat arm mense help. ’n Voormalige adjunk-eerste minister, dr. Libertine Appollus (voorheen Amadhila), tree ook voorbeeldig op. Vyftien jaar gelede het sy op pensioen gegaan, maar nie opgehou om arm gemeenskappe te ondersteun nie. Onder andere het sy grootliks daartoe bygedra dat die Gekombineerde Skool Otjumuru, wat voorheen geen koshuis gehad het nie, vandag ’n moderne koshuis het. Sy het nie net ’n reuse- finansiële bydrae gemaak nie, maar ook toesig oor die bouwerk gehou.
Sulke leiers is werklike voorbeelde. Hulle verdien respek. Ons kan nog baie voorbeelde noem, maar ongelukkig is die spasie beperk.
Op 21 Maart word die leiers ingesweer wat vir die volgende vyf jaar die verantwoordelikheid vir die land sal dra. Ons hoop hulle sal tot die oplossing van ons probleme bydra.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie