'Ons hu00e9t genoeg geld'
'Ons hu00e9t genoeg geld'

'Ons hét genoeg geld'

Die regering erken sy aandeel in die kontantvloeikrisis van ­veral die konstruksiesektor, maar sê die private sektor het ook tot dié penarie bygedra.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy



Altesaam N$450 miljoen van die Padfondsadministrasie (RFA) se kontantreserwes gaan gebruik word om die regering te help om sy uitstaande skuld van net meer as N$1 miljard aan die plaaslike sakesektor te vereffen.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het gister verseker die regering het genoeg geld om al sy begrotingsverpligtings in die huidige boekjaar tot einde Maart 2017 na te kom. Buiten vir heersende kontantvloeiprobleme, sit die regering egter met N$800 miljoen se uitstaande fakture vir kontrakte in veral die padkonstruksiebedryf waarvoor níé begroot is nie.

Dié besteding is nie net onwettig nie, maar getuig van ''n “totale gebrek aan finansiële dissipline”, het ''n duidelik omgekrapte Schlettwein gesê.

Die RFA het N$318 miljoen onmiddellik tot sy beskikking en het reeds begin om agterstallige rekeninge te prioritiseer en vinniger te betaal, het Schlettwein gesê. In die lig van ­beperkte kontantvloei en die bestuur daarvan sal uitstaande re­keninge van maatskappye waar mense die meeste geraak word, eerste betaal word. Die res sal in die oor­blywende net meer as ses maande van die huidige ­begrotingsjaar ­vereffen word, sê Schlettwein.

Agterstallige skuld van die regering sluit rekeninge in wat 30 dae en meer uitstaande is, maar van dit strek so ver as 2009 terug, het Schlettwein gesê. Die meeste hiervan is van konstruksiemaatskappye wat paaie bou.

Die Federasie vir die Konstruksie­bedryf in Namibië (CIF) het Woensdag gesê die regering het tot 15 Desember om sy agterstallige skuld van meer as ''n N$1 miljard te betaal.

Dié ultimatum druis in teen die “konsulterende gees” waarin samesprekings tussen die regering en die CIF geskied, was Schlettwein se reaksie. Die regering het reeds met die federasie vergader en sy betalingsplanne met hulle gedeel, sê hy.



Regering nie enigste sondaar

Die regering se uitstaande rekeninge aan die konstruksiesektor mag wel ''n miljard oorskry, maar vername rolspelers in dié bedryf skuld Jan Taks sowat N$1,45 miljard aan opgeloopte agterstallige belasting.

Dié reusebedrag spruit uit rente en boetes op N$300 miljoen se belasting wat nie betaal is nie. Die meeste van dié skuld kom uit vorige jare toe konstruksie ''n bloeitydperk beleef het, sê Schlettwein.

As dié belasting betyds betaal was, sou die re­gering se finansiële penarie nou nie so benard gewees het nie, sê hy. Belastingontduiking is onwettig en sál gevolge hê, het Schlettwein beklemtoon.

Buitensporige bedrae wat aan tenders gekoppel word, haal ook die minister se gramskap op die hals. Die konstruksiebedryf, veral wat padboukontrakte betref, se pryse neig om inflasie voortdurend te oorskry.

Die CIF wil hê die regering moet korrupsie so streng as moontlik vasvat, maar daar is “altyd twee partye in korrupsie”, sê Schlettwein. Die private sektor maak hulle net so skuldig hieraan, sê hy.

“Ons moet ons houding verander dat die regering die enigste korrupte party is, terwyl private spelers se kant skoon is. Kom ons takel eerder dié euwel saam,” sê Schlettwein.



Onwettig

Toegestaande kontrakte van N$800 miljoen waarvoor nie begroot is nie, is ''n “bron van groot kommer”, sê hy.

Sekere SOE''s soos die Paaie-owerheid (RA) is skuldig hieraan en gevolglik moet die regering nou vir dié ongeoorloofde uitgawes pa staan. Terselfdertyd laat waai die RA met partytjies. Besnoeiing op onbelangrike uitgawes wat geld beskikbaar stel sodat kontrakteurs se rekeninge betaal kan word, geniet geen aandag nie, sê Schlettwein.

Ook dit is ''n ernstige saak van rekenskap en goeie bestuur wat getakel moet word, sê hy.

Om binne die regering se begroting te bly, is die verantwoordelikheid van rekenpligtige beamptes (gewoonlik permanente sekretarisse), sê Schlettwein. Waar bewys kan word dat sulke uitgawes die staat skade berokken het, sal skuldiges dié ­verliese moet verhaal, sê hy.

“Daar is baie laksheid in die stelsel. Mense het met moord weggekom.”

Die private sektor moet egter ook hul huiswerk doen. “As jy ''n kontrak gekry het, maak seker of die geld daarvoor beskikbaar is. As ék ''n sakeman was, sou ék,” sê Schlettwein.



Taai tye

Die regering is deeglik bewus van die pyn wat sy begrotingsbesnoeiing van miljarde op die ekonomie en sy mense het.

Ook hier moet die private sektor egter sy deel van die blaam dra. “Dit is nie die regering se verantwoordelikheid om ''n sakemodel vir jou besigheid te hê nie. As jou besigheidsplan heeltemal van regeringsprojekte afhanklik is, moet jy daarmee saamleef,” sê Schlettwein.

Die regering is oortuig die benarde situasie waarin die Namibiese ekonomie tans gedompel is, kan bestuur word en is tydelik van aard. Dit is ook noodsaaklik om te verseker die land oorleef “dié perfekte storm”, sê Schlettwein.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!