Ons humanitêre krisis
Augetto Graig - Namibië se president sê die lewensomstandighede in die land se verskeie nedersettings is ’n humanitêre krisis. Hy is reg. Dit is goed dat die staatshoof dit raaksien.
Dit is goed dat hy dit in die openbaar bevestig. Ons moet almal bewus wees daarvan en van die ellende wat ons medemens in ons land ervaar.
Die waarheid is dat hoewel Namibië onafhanklik is, mens nie dieselfde van die meeste Namibiërs kan sê nie.
Hoewel die land ryk is, kan die meeste Namibiërs nie bekostig om hul basiese behoeftes te vervul nie. Kos is duur, water is duur en behuising is so ver buite die bereik van die meerderheid van ons verskeie dorpe se inwoners dat hulle soms moed opgee.
Elke week is die polisie se misdaadverslag lank – en daar’s selfs moorde.
Die vraag is: Wat nou? Hoe kan die situasie verbeter word? Hoe kan die waardigheid van arm mense in Namibië herstel word? Hierdie doelwitte word nóg moeiliker binne die raamwerk van ’n wêreld sonder etiek, beginsels, waardes of menslikheid.
Daar word gedurig daarop aangedring dat ’n mens se waarde bepaal word deur hoeveel geld in jou bankrekening is.
Oral word die afgod van besittings en status aanbid. Kinders word grootgemaak om te kompeteer, en die wenner kry als.
Hierdie leuen kan mens só oorweldig dat mens maklik vergeet wat werklik van belang is.
Met die klem op wat jy nie het nie, is dit moeilik om dit wat jy wel het, werklik te waardeer. Nog minder word mens aangemoedig om jou menslikheid te ontwikkel, om na jou medemens om te sien, om te deel, om saam te lag en saam te huil, om ’n ware gees van gemeenskap te skep.
Ons sien trouens hoe suksesvolle mense trek, agter hoë mure gaan skuil en die swaarkry van ander ignoreer. Die ergste is wanneer hulle arm mense vir hul armoede begin blameer.
Ek stem saam met die president dat Namibiërs in hul eie land nie so moet leef soos wat daar in Windhoek se Havana, of Tsumeb se Kuvukiland geleef word nie.
Ek voel egter sy boodskap aan mense om te bly waar hulle gebore is, neem nie die hedendaagse werklikheid in ag nie.
Mense trek stad toe op soek na ’n beter lewe. Hulle soek ’n beter lewe omdat die lewe waar hulle vandaan kom donker is.
Op die platteland is geen hoop nie – veral nie vir jongmense nie. Werk is so skaars soos hoendertande. Geld is altyd te min.
Geleenthede bestaan slegs vir die enkeles wie se ouers goeie bande het.
Die werklikheid van die platteland is ook nie nuus nie. Dit kan al lank gesien word. Dít is hoekom die regering gedesentraliseer is. Die gebrek aan die doeltreffende toepassing van desentralisasie is regtig nie arm mense se skuld nie. Dit is die regering wat weer eens nie daarin geslaag het om sy eie planne deur te voer nie.
Om staat te maak op die regering sal nie die penarie oplos nie. Ons almal moet ingryp. Ons almal moet help. Dit begin by jou, net waar jy is.
Toon belangstelling in jou bure se omstandighede. Soms is net iemand wat luister genoeg om mens die moed te gee om voort te gaan.
Soms is net ’n koppie suiker genoeg, of soms net ’n snytjie brood.
Al kos dit wát, is hierdie krisis ook ’n geleentheid vir ons almal om Namibië se siel te herontdek en Namibiërs se menslikheid weer te laat ontluik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie