Ons is (nie) almal so (nie)
Ons is (nie) almal so (nie)

Ons is (nie) almal so (nie)

Henriette Lamprecht
Hulle beweeg meer dikwels as selde in gelid, in groepe, in stambome (met baie takke). Eendrag maak mag. Dieselfde groepgelid maak ook met standaardvieringe soos geboortes, sterftes, dope, troues, verjaarsdae, langnaweke en natuurlik skoolvakansies hul verskyning op welke plek daar op besluit is om uit te span, hetsy see, dieretuin, Sun City of ’n tweejaarlikse uittog na Suidwes, die grootste Gautengse voorstad.

Die algemene vervoer in familie- of gesinsverband is óf ’n Toyota Fortuner (verkieslik goud) of ’n Volkswagen Caravelle (verkieslik wit). In die CD shuttle is ’n gebalanseerde mengsel van gunstelingliedjies vir die kleinspan (Tannie Carike en Lollos), vir Mamma (Refentse, Bobby en Jay & Liani) vir Pappa (Visvangtreffers en Blaas my Bal) en vir Ouma (Bobby Angel & Barbara Ray sing Kontreitreffers).

Voor die aanvang van die groot uittog oor die grens is elke vroulike lid van die stamboomgeselskap by Naughty Nails gemani en gepedi met die neutrale Franse manikuur met ’n magrietjietjie of ’n diamantjie regs bo in die hoek van elke nael wat die eentonigheid so ’n hupstootjie gee. Dis warm soos in “Kruger Wildtuin in die somer-warm” in Suidwes.

Daarom is die standaarduniform vir die Fortuner- en Caravelle-brigades flipflopplakkies (Pappa, Mamma, Boetie, Sussie, Ouma en Oupa), kort- of kuitbroeke, verkieslik wit, want dit pas by alles (mammas en oumas) en verkieslik kakie vir die pappas. Spaghetti-tops is koning, met ’n glimps van ’n kantbra, terwyl die manne se T-hemde informeel aankondig “Best Beer Bum” en “Fishing is Fun”.

Buiten die beskerming van faktor 50 op elke liggaamsdeel van jonk en oud wat iewers uitsteek, is daar die hoede. Vir die vroulike geselskap is visor caps en ’n ponie die aanvaarde voorkoms. Die kleinspan is opgesaal met flaphoede wat onder hul kenne vasmaak met ’n knoop wat nooit ooit weer gaan loskom nie.

By die etenstafel (soggens, smiddae en saans) val die vroue en kinders eerste in. Vinnig-vinnig word uitgesorteer wie sit waar, watter kind kry roereier, watter een net spek en watter een is oud genoeg om tot omeletstatus bevorder te word. Warrel-warrel die mammas om van snot tot tamatiesous af te vee, die gemorste eier onder ’n tafelpoot te kry en tussendeur vir Pappa sy boere-ontbyt te bestel. Klokslag ’n halfuur later daag die pappas uitgerus maar ongeskeer by die tafels op (almal styf teen mekaar gestoot) en sê hulle het so lekker geslaap, dis eet en dan swem.

Wanneer die gedruis van die etende, protesterende, geselsende, oorweldigende groepgedruis klaar hul maens en monde gevul het, is dit tyd vir die volgende uitstappie.

’n Halfuur later sak die gedruis op die swembad toe. Kleinspan in eenstukswempakkies, toe van enkel tot pols, opblaasarmpies, rekhoedjie op die kop. Mammas se wit kortbroeke nou vervang met ’n veelkleurige sarong wat sy knipoog vir Pappa loswriemel voor sy saam met die kinders net tot kort duskant die visor cap in die water verdwyn.

Dan begin dit. Die kakofonie van “Marco! Polo!”, “Sussie, ko’ hier, Mamma moet weer sonblock smeer”, “Mamma die block loop in my oë!”, “Marco! Polo!”, Boetie ko’ híér, jy moet weer sonblock kry”, “Pappa ek het klaar gepiepie”, “Marco! Polo!”.

’n Onrustige rustigheid daal neer wanneer die son sak en die kinders se lippe swembadbodemblou van die koue is. Net om ’n halfuur later, betyds vir aandete en die verskyning van muskiete, weer te begin.

“Sussie kom, Mamma moet weer Peaceful Sleep spuit.”

“Mamma, die Sleep loop in my oë.”

“Pappa, die muskiet het my gehap.”

Krokodille, likkewane, voëls, vuurvliegies en apies soek skuiling onder die naaste hoop seekoeie. Môreoggend begin alles weer.

*Bogenoemde is gebaseer op ware, ter plaatse gebeure en waarnemings soos eerstehands ervaar (en probeer verwerk) tydens ’n feesseisoen by ’n lodge langs ’n rivier. Vir dramatiese effek is oordryf, aangelas en (baie) min spek geskiet.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer