Ons land en sy wonderlike mense
Ons land en sy wonderlike mense

Ons land en sy wonderlike mense

Dani Booysen
Die afgelope weke het ek die voorreg gehad om persoonlik met elke inskrywing vir Republikein, Namibian Sun en ons borg se braaikiekie-kompetisie te werk.

Enigeen wat deur hierdie fotogalery op Facebook blaai, behoort gefassineer te wees deur ons mense.

Van wyd en syd, selfs suid van die Gariep, is met braai en kiek laat waai (hoewel dit wil lyk of mense in ‘n resessiejaar dalk so bietjie minder om hierdie haard vergader. . .).

Mooi kyk maak dit moontlik om in elke foto iets spesiaal te gewaar. Maak nie saak hoeveel keer meester Suikerberg se houvan-, liefvir-, sjoe- of ander knoppies gedruk is nie.

Dit is nie net natuur-, stads-, dorps- en plattelandse tonele wat dag in en uit die wonders van Namibië weerspieël nie, maar dalk meer nog ons ryke menseskat in sy groot verskeidenheid.

Die manne wat hul braai in die Nautedam se water in getrek het, het wyd reaksie ontlok. Oor al wat ‘n grens is. Wat wys Namibiërs kan sáám geniet en lag.

Dan is daar Jonas en Iyambo in Suiderhof, almal in hul Khomasdal-agterplase, Rehoboth se mense, straatbraaie, Kaleni Haihambo en vrinne, ‘n man wat met sy selfoon lig op die vleis werp, asook beelde van die plaas en riviere, Rosh Pinah, Tsumeb, die Spitzkoppe, Lüderitz, Otjiwarongo, Walvisbaai, Grünau, Keetmanshoop, Swakopmund, Outjo, Oranjemund, Hentiesbaai, Jakkalsputz, Rundu, Mariental, die Hardap- en Von Bachdam, Spreetshoogte en meer.

Daar is mans, vroue, jonk, oud, oumas en oupas. Waarby ‘n mens Oom Koos Coetzee (77) moet uitsonder, wat, al sit hy in ‘n rolstoel, steeds self slag en braai.

Opvallend was hoeveel kinders vanjaar agter die braaistange afgeneem is. Hierdie is enige land se kosbare toekoms en dit wys prakties hoe hoog ons die belang van môre se Namibiërs ag, en hoe positiewe tradisies van een geslag na die volgende oorgedra word.

Gaan kyk maar net na die baba by sy inkooptrollie, die Bastermeisietjie met haar kappiebraai, ‘n laaitie wat duim-op langs die rooster wys, ‘n braaitenk met wieletjies aan, die tweeling met hul Namvlagbandanas – en baie meer!

Vir baie jare kom “sekere mense” al verby omdat hulle nie amptelike vieringe bywoon nie en glo eerder tuisbly en braai. Die feit is egter dat baie Namibiërs – nie net uit ‘n sekere groep nie – op Onafhanklikheidsdag, soos ander openbare vakansiedae, in elke deel van die wyd uitgestrekte land saam met familie en vriende ‘n vuurtjie aansteek vir ‘n braai of ‘n potjie.

En wie sê ons mag nie só vier nie? Dit is elkeen wat so maak se vryheid, reg en keuse.

Dit sê beslis nie ons moet heeltemal vergeet waaroor hierdie, en ander herinnerings- en feesdae, gaan nie. Die betekenis van die dag moet in ons verstand, hart, woorde en dade leef.

In dankbaarheid en erkenning.

Wat ook nie beteken ons mag nie krities reflekteer op so ‘n dag nie. Maar vir nyd, haat en slegpraat is dit ook nie die plek nie.

Wat gaan dit in elk geval vermag? Buiten om die hart en verstand te versuur.

By uitstek is die braaivuur tog ook ‘n plek vir besin en positiewe planne maak.

Die foto’s wys ook die kultuur dat waar daar iets op die rooster sing of in die pot prut, ‘n gouekoue of hardehoutjie byderhand is. Ook daarmee skeel niks. Ons vier mos.

Hoewel daar oor die hoeveelheid en verantwoordelike gebruik ‘n debat moet wees.

Gesin des Boois het eers laat Woensdag gebraai; die vleislus aangesteek deur die saamlééf met elke kiekie deur ons unieke landsgenote.

In dankbaarheid en verwondering.

Kom ons vier mekaar. En gesels om die groter braaivuur oor hoe ons Namibië beter kan maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!