Ons mense: ‘Ek gaan nie stem nie; niks verander ooit’
Tanja Bause – Voor ’n eenvertreksinkhuisie in die Havana- informele nedersetting sit ’n kaalbors man in ’n rolstoel en tuur die vertes in.
Hy besit net ’n paar stukkies klere en krukke, en hy hou van voëltjies.
Mnr. Andy Camini (53) woon die afgelope 15 jaar in dié sinkhuisie sonder toegang tot lopende water, toiletgeriewe of elektrisiteit.
Soos soveel ander maak hy gebruik van “vlieënde” toilette.
“Wanneer ek toilet toe moet gaan, gebruik ek ’n plastieksak wat ek dan toeknoop en langs die pad gooi,” sê hy.
Camini is nie net gehoorgestremd nie, maar het ook krukke nodig om oor die weg te kom.
“Ek sit nou wel in dié rolstoel, maar dit is nie myne nie. Ek het hom by die Katutura-staatshospitaal gekry en moet hom terugvat, ek weet net nie hoe nie,” sê hy.
Camini het homself in die verlede beseer en moes behandeling by die hospitaal ontvang. Ná hy ontslaan is, het die hospitaal geen krukke gehad om hom te gee nie – derhalwe die rolstoel.
“Die rolstoel maak my lewe ’n bietjie makliker en ek gebruik hom sommer ook as stoel, anders sou ek soos gewoonlik op die grond moes sit,” sê hy.
Die krukke het hy uiteindelik by ’n dokter in Klein Windhoek gekry, en verder besit hy net “goed om op te slaap”.
“Die lewe is baie moeilik – veral vir mense soos ek. Ek het destyds by Ehafo, voor dit toegemaak het, as sweiser gewerk, maar nou het ek geen werk nie. Daar is wel mense in Eros wat my help – veral met kos.”
Camini het 30 jaar gelede, soos baie ander, uit die Kavangostreek Windhoek toe getrek op soek na ’n beter lewe – tevergeefs.
“Ek het geen hoop nie. Al waarvoor ek wens, is dat ek dalk meer kerk toe kon gaan, en dat ek dalk genoeg geld kan kry om ’n klein besigheid hier voor my huis op die sypaadjie te kan begin – soos om groente en vrugte te verkoop. Maar dit sal nie gebeur nie. Die mense wat my reeds help, help my genoeg en ek kan nie vir hulle nog geld vir ’n besigheid vra nie,” sê hy.
Camini sê hy gaan nie in die komende nasionale verkiesings stem nie.
“Ek het geen hoop op verandering nie, want niks het verander in die 15 jaar wat ek in die plakkerskamp woon nie. Ek het ook my identiteitsdokument ’n geruime tyd gelede verloor en het geen stemkaart nie.
“Ek spandeer die meeste van my tyd hier op my eie en dus lees ek baie. Ek lees Engelse boeke wat ek van ’n pastoor gekry het. Maar die meeste van die tyd hou ek die voëltjies dop. Hulle vlieg van die boom oorkant die straat na my boom. Ek hou daarvan om te kyk hoe hulle in die sterk wind vlieg. Hulle baklei teen die wind en hulle kom altyd by my boom uit.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie