Ons moet maar sterk wees en spiere wys
Ons moet maar sterk wees en spiere wys

Ons moet maar sterk wees en spiere wys

Yochanaan Coetzee
Suid-Afrika se onlangse afgradering na rommelstatus moet 'n les wees vir Suidelike Afrika, amper soos ons gedog het Zimbabwe sou wees.

Die feit dat ons lande gyselaar gehou word deur die selfsugtige besluite van leiers, verstom my.

In die laaste 17 jaar het ons gesien hoe ons bure se ekonomie en ons s'n deur dramatiese besluite swaar getref is en die sosio-ekonomiese impak wat dit op die streek gehad het.

Ekonomiese probleme lei na maat­skaplike probleme. Maatskaplike probleme lei na publieke gesondheid- en sekuriteitsprobleme en dít lei weer eens na nóg probleme in ons ekonomie.

Dit is hoekom ons in Namibië bevoorreg is om in 'n vreedsame en meestal regverdige land te bly. Dit is danksy die goeie leierskap wat ons sedert onafhanklikheid gehad het. Hoewel geen burger kan sê dat ons land perfek is nie, stel ons 'n voorbeeld vir so baie ander lande in Afrika en die wêreld, en hoewel ons 'n goeie paar probleme het plaaslik, is dit niks in vergelyking met baie ander in hierdie wye wêreld, of selfs net hier in Afrika nie.

Die Noorde het vir Al Shabaab, die weste van Afrika, Boko Haram, maar suid van onse Eden, het Suid-Afrika vir Jacob Zuma.

Met honderde bedrogklagtes, een van verkragting en ­assosiasies met 'n goeie paar van die ­afskuwelikste ouens in Afrika, is ek weer eens verstom dat dít die realiteit is.

Soms voel dit of dit alles net 'n nagmerrie is. Al vat jy al die slegte dinge in ons wêreld weg, is Zuma en Trump te veel vir een leeftyd.

Die enigste goeie ding wat Jacob Zuma in sy tyd as president gedoen het, was om die bevolking só befoeterd te maak dat hulle saamgetrek het. Nietemin was hy so strategies dat, hoewel daar diegene is wat teen hom protesteer, selfs in sy eie party, dit nie veel meer sal bereik as om meer verliese vir die ekonomie te skep en vir ons 'n paar goeie “memes” en gespreksonderwerpe te gee nie.

Soos 'n dronk meesterskaakspeler het Zuma hom omring met mense wat hom sal beskerm, maar in sy blydskap skop hy sommer die tafel om.

“Talk about a hail Mary play.”

Baie mense sê ons Afrika-leiers kan nie verder as hul boeppense sien nie, maar ek glo dit nie. Hoewel die pensies dit bietjie swaarder maak om uit te kom en die realiteit op die grond te ervaar, dink ek eenvoudig die leiers is so besig om in hul koppe sommetjies te maak en die volgende vakansie te beplan dat hulle nie tyd het om hulself met klein goedjies soos die welvaart van die skare of hoe volhoubaar ons bronne is op te hou nie.

Al hierdie rommel wat rondwaai het ons by 'n kruispad gebring. Óf ons raak betrokke en poog vir beter, óf ons hou ons monde en klou aan die bus vas terwyl die drywer met ons van 'n krans af ry.

Alles het gevolge - ons stilte ook. Ons voel nou nog die gevolge van die gebeure in Zimbabwe 17 jaar gelede en met onder meer die gerug van 'n Suid-Afrikaanse universiteit in Namibië in die toekoms, lyk dit of ons landjie weer eens reddingsboot sal speel.

Nie dat ons omgee nie, want ­afgesonderd is ons broos, maar soos in die tyd voor onafhanklikheid, gaan ons meer bereik as ons saamstaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!