'Ons moet ons kultuur bewaar'
!Amace N!aici het in 2017 sy eie kulturele besigheid buite Tsumkwe begin met kampplekke, twee tradisionele hutte en 'n opslaantent waarin mense kan oornag.
Tanja Bause – “My familie het vir Grashoek gestig. Hulle was ook die mense wat by die stigting van die eerste Living Museum in Namibië betrokke was,” sê !Amace N!aici van Tsumkwe Crafts & Tours.
Hy is in die omgewing van Rundu gebore. Ná sy ma dood is, het sy pa saam met sy nuwe vrou Tsumkwe toe getrek en !Amace het op Rundu by sy suster agtergebly.
“My twee broers het vir my pa gevolg en al drie van hulle was soldate in die weermag. My broer Ghau het in 1981 Rundu toe gekom om vir my en my suster na my pa in Tsumkwe toe te vat. Net ek het gegaan, omdat my suster nie kon nie.”
Sy pa het intussen Nhoma toe getrek en sy seuns het by hom aangesluit. !Amace het in Nhoma agtergebly om daar en in Mangetti Dune skool by te woon terwyl sy pa verder getrek het.
“Ek het bietjie skool toe gegaan voordat ek na my pa in Grashoek getrek het. My oupa, ouma en pa het vir iemand gevra of hy vir hulle 'n boorgat kan boor. Hy het dit gedoen en Grashoek is deur hulle by die water begin.”
Grashoek het as 'n familienedersetting begin, maar aangesien daar water was, het meer en meer mense soontoe getrek.
Die gemeenskap het begin aangroei en vandag is daar 'n skool wat tot graad 7 gaan en 'n koshuis.
Die toergids Werner Pfeifer – die man agter die Living Museum-inisiatief – het Grashoek besoek.
“Hy het met my broers gesels oor ons kultuur en tradisies. Ek en my oupa was in daardie stadium in die bos en nie by die huis nie. Met ons terugkoms het my broers vir ons van die besoek vertel.
“Ek het gesê ons pa het die tradisionele klere en ook die pyl en boog en ons moet dit aantrek en vir die man wys sodat hy foto's kan neem.”
Werner het teruggekeer en !Amace het hom opgesoek en met hom gaan praat.
“Hy het ons van die lewende museum vertel en hoe dit sal werk, wat ons moet doen en ons het daarmee as 'n familie begin. Ons het die museum gebou, al was dit baie klein aan die begin.”
LEWENDE MUSEUM
Sedert 2004 bestuur die Ju/'Hoansi hul eie museum. Die Ju/'Hoansi-museum van die Living Culture Foundation Namibia (LCFN) is een van sewe soortgelyke museums in Namibië.
Die lewende museum is 'n outentieke opelugmuseum waar gaste die kultuur, tradisies en oorspronklike leefwyse van die San kan beleef. Hulle stel hul kultuur in tradisionele drag ten toon in hul gerekonstrueerde “nomade-dorp”. Hulle heg groot waarde daaraan om die jagter-versamelaar-kultuur so outentiek as moontlik aan te bied.
Aan die begin was die museum baie klein en kon die familie al die toeriste self hanteer.
“Mettertyd het baie toeriste gekom en ons moes ander San nooi om by ons aan te sluit. Ons het groepe gevorm. Dus terwyl die een groep saam met toeriste in die bos op 'n avontuuruitstappie was, kon die ander groep die toeriste in die dorp wys hoe om vuur en juwele te maak en te sing en dans.”
!Amace is gevra of hy sal belangstel om saam met sy vrou en nog twee San Twyfelfontein toe te gaan om 'n Damara Living Museum op die been te bring.
“Ons vier het gegaan en het alles vir hulle geleer. Ek het hulle geleer om vuur te maak en hoe om die velle skoon te skraap sodat hulle klere kan maak.”
Terwyl hulle in die Otaviberge gejag het, het !Amace gevra of hulle nie 'n Living Hunters Museum in Tsumkwe kan oopmaak nie.
“My vrou, Be, kom oorspronklik van Tsumkwe af. In 1993 het sy saam met my daar weggetrek en sy het na haar familie en dorp begin verlang. Die museum in Grashoek het ook te groot begin raak en die mense het onder mekaar begin stry. Ek en Be het besluit om Tsumkwe toe te trek en wou 'n jagtersmuseum begin.”
In Maart 2010 is die museum in die //Xa/oba-nedersetting geopen. !Amace het die museum begin en die LCFN en Be !Kaece se familie het dit gebou.
“Die mense wat in die Nyae Nyae-bewaringsgebied woon, is die enigstes wat nog tradisioneel mag jag. Ons kan nog steeds die diere se spore lees. Ons kan toeriste wys hoe ons met 'n pyl en boog jag. Ons kan die gif wat ons gebruik vir hulle wys, asook hoe ons voëls met strikke vang.”
Terwyl hy by die museum betrokke was, was hy die bestuurder van die groep en het hy saam met hulle Windhoek toe gekom vir die //Ae//Gams-kuns- en kultuurfees.
“Ons het ook Etosha, Kaap Kruis en Sossusvlei as 'n groep gaan besoek.”
EIE BESIGHEID
In 2017 het !Amace sy eie besigheid, Tsumkwe Craft & Tours, begin. Dit is twee kilometer buite Tsumkwe op die Sikereti-pad wat na die Khaudum Nasionale Park lei.
“Ek het my besigheid geregistreer en betaal elke einde van die jaar inkomste aan die regering,” het hy trots gesê.
Hy het kampplekke, twee tradisionele hutte en 'n opslaantent waarin mens kan oornag.
Aangesien hy so lank al by die lewende museum betrokke is, het hy al die ondervinding en kennis van hoe om met toeriste te werk en waarna hulle op soek is.
Op sy plakkaat staan: “Ek is 'n plaaslike toergids in Tsumkwe en die omliggende gebiede. Bespreek my vir 'n besoek aan Tsumkwe, die Khaudum Nasionale Park, tradisionele San-nedersettings, die Baobabboom en die Nyae Nyae-panne. Ons ry in jou voertuig – want ek het nie een nie.
“Ek bied die bosstap aan waar ek mense wys hoe om vuur te maak, strikke op te stel, spoor te lees en om diere op te spoor. Ek wys hulle ook ons boskos en medisyne. Daar is ook 'n aksiedag en die handewerkprogram waar mense leer hoe om toue, juwele en pyl en boë te maak. Hulle kan ook van ons tradisionele kosse probeer.”
PASSIE
!Amace en Be is ongelooflik passievol oor hul tradisie en kultuur en hulle leer die kinders daarvan.
“Ek leer die seuns pyl en boë maak, asook hoe om 'n koker en messe te maak – alles tradisionele wapens. Be leer die meisies hoe om juwele en ander handewerk te maak.”
Hy leer en wys die kinders byvoorbeeld hoe om 'n voëlnes uit die bos te haal, wat as 'n sakkie vir die gif vir hul pyle gebruik word. Die gif word in die voëlnes gebêre waar dit nie vrot word nie en lank bewaar kan word.
“Dis vir my baie belangrik om ons kultuur te bewaar. Ek het agtergekom veral die jonger mense stel nie meer daarin belang nie. Hulle wil in die kerk of die sjebien sit.
“Ek het geen probleem daarmee om kos by 'n winkel te koop nie, maar jy moet ook kos in die bos gaan soek. Die twee moet mekaar aanvul.
“Hulle stel nie in die plante- en bosmedisyne belang nie. Hulle gaan hospitaal toe wanneer hulle siek voel. Ek gaan bos toe en soek die plante wat vir die kwaal kan help. Ek en my familie gebruik die plante en as ons ná drie of vier dae nie beter voel nie, dan eers gaan ons hospitaal toe.
“Ek hou nie daarvan dat die jong mense hul kultuur vergeet nie. Ons moet 'n middeweg tussen kultuur en moderne lewe vind.”
– [email protected]
FOTO’s Tanja Bause
!Amace N!aici, stigter en eienaar van Tsumkwe Crafts & Tours.
!Amace N!aici en sy vrou Be !Kaece (rooi hemp) met hul kinders en kleinkinders.
!Amace N!aici by een van die tradisionele hutte waarin besoekers kan oornag.
Die ingang na die tradisionele nedersetting en kampeerplek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie