Ons taal
Nugtere besinning oor Afrikaans in Namibië
In die New Era van 6 November verskyn ’n bydrae van Gerson Uaripi Tjihenuna onder die opskrif “Afrikaans: The language we love to hate”. Dit is ’n besonder nugtere besinning oor Afrikaans in Namibië en ek het groot waardering vir die oorweging en tyd wat die outeur daarin belê het. Tjihenuna verwerp die etiket “taal van die onderdrukker” en pleit vir debat op ’n hoër vlak.
Hoewel Afrikaans se assosiasie met die apartheidsera nie ontken kan of mag word nie, is dit beslis nie waar die storie van Afrikaans in Namibië begin nie. Tjihenuna wys op die geboekstaafde feite dat Afrikaans-Hollands reeds teen die laat 1600’s – byna 200 jaar voordat die koloniale era hier aangebreek het – deur verskeie groepe en reisigers as lingua franca in veral die suide gebruik is.
Toe die Duitsers in die 1880’s (redelik laat) tot die Westerse wedloop om die opraap van kolonies toegetree het en Suidwes-Afrika as Duitse protektoraat begin vestig, was Afrikaans-Hollands die voor die hand liggende onderhandelingstaal, omdat dit so wyd onder die plaaslike bevolking gebruik is.
’n Groot deel van ons kennis oor hierdie periode in die geskiedenis van Namibië en die vroeë stadia van wat ’n nasionale bevrydingstryd genoem kan word, het ons te danke aan die briewe en dagboekinskrywings van Kaptein Hendrik Witbooi – byna alles in Afrikaans-Hollands. Soek en lees gerus Tjihenuna se insiggewende stuk, waaroor ek graag meer sou wou sê. En lees daarby gerus Connie Braam se historiese roman Ek is Hendrik Witbooi (Protea Boekhuis, 2019) – ’n fassinerende (en ontsettende) stuk Namibiese geskiedenis waarin Afrikaans sentraal staan in diens van verset teen kolonialisme. Ek wou die boek vir die vakansie hou, maar kon dit nie neersit ná ek die eerste bladsy begin lees het nie.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie