Ons taal
Dieremaniere
Ons het verlede naweek in Etosha ons omtrent verlustig aan die skepping. Wat my die meeste getref het, was die olifante wat sowaar elkeen sy/haar eie persoonlikheid het! Die een drink deftig sonder om ‘n druppel te mors, die ander spat baldadig ander nat, en dan is daar die lawwe een wat besluit dat hy nie die beste van die watergatbesoek gemaak het, as hy nie eers heeltemal soos ‘n duikboot onder die oppervlak verdwyn het nie. Miskien is dit inderdaad so met elke liewe individu, nie net ons mense nie, maar elke boom, elke dier. Daar is die unieke aan elke enetjie. Tog is daar ook die onomwonne gemeenskaplikeid van elke soort. Wanneer ek die foto’s op my selfoonskerm gerek het sodat ek die dier se gesiggie van naderby kon bekyk, kon ek nie anders as om saam te stem dat die pajamadonkies die lewe meer prettig benader as die meeste ander grasvretendes nie, en die jakkalse. . . elkeen het tog so ’n sweempie slinksheid om sy mond, en ’n draffie wat wil verklap dat hy nog nie van streke verander het nie. En die onverwagse was die olifante wat so stil soos muise kan beweeg. Sowaar, ek sal nooit weer kan sê ’n spul kinders raas soos ’n trop olifante wanneer hulle verbystap nie! Dit het my kop laat loop deur die karaktereienskappe wat ons taal (deur middel van metafore, idiome en stories) koppel aan verskillende diere. Ek wil nie nou al die ape uit die mou laat nie, maar ek sal oor die volgende paar aflewerings fokus op ’n klompie daarvan.
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie