Ons taal
Ons taal

Ons taal

Grief, griewe en griewels
Sanet de Waal
Ek het gister ’n nuwe woord geleer. Ek moet bieg, ek het eers gedink die woord bestaan nie regtig nie, maar toe ek iemand anders daaroor uitvra, was sy baie verbaas dat ek nie die woord ken nie. Nou wonder ek of daar van ons lesers is wat ook hierdie woord gebruik. Ek wil jou nie grief nie, maar ek moet jou tog nog ’n klein bietjie aan ’n lyntjie hou. Ons ken die werkwoord grief wat die HAT verduidelik as leed aandoen. En dan is daar die selfstandige naamwoord grief met die meervoud griewe, soos in Kolossense 3:19 “Mans, julle moet julle vroue liefhê en julle moenie griewe teenoor hulle opbou nie.” (Terloops, dit klink vir my na goeie raad vir beide geslagte!) Ons ken ook die selfstandige naamwoord gruwel soos in Spreuke 3 “’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel.” En meer as een gruwel is gruwels. Maar ken jy die woord griewels? Ek hoor gister iemand sê “Oe, nee! Dit gee my die griewels!” Dit klink vir my na iets gruwelrigs wat ’n krieweling teen jou ruggraat opstuur, wat baie klink na Afrikaans vir “It gives me the creeps!” Ek kry dit nie in die HAT nie, en selfs toe ek dit googleloer, kon ek dit nie opspoor nie. Maar ek hou daarvan! Nie van die griewels of rillings nie, maar tog van die woord. Ek hoor graag jou mening hieroor.

Petronella F Genis

[email protected]

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer