Ons taal
Vrouedigters
Hallo Ma
Ma, in ’n leeftyd van letterkunde gee word ’n mens se lewe verryk deur skrywers. En vandag het ek dit oor digters. Vrouedigters. Van die ouer digteresse word soms vir my ’n tipe ma-figuur, iemand saam met wie Ma dalk sou kon skoolgehou het. Dié van my leeftyd figureer in my psige as ’n vriendin van een of ander aard, of ’n kollega met wie ek oor die digkuns kan redeneer.
Wilma Stockenström skryf ’n gedig oor die ouderdom wat jou inhaal. Ma vergewe my dat ek die laaste twee kere oor die swaarder temas van oudword skryf. Ek wil glo dit sal verander. Wanneer Covid se greep op ons begin verslap. Op die oomblik word bome bitter na aan die huis afgekap. En soms word ek bang. (Ja Ma, hierdie kliphardegatkind van jou word bang.)
Ma, Stockenström se oeuvre gaan dikwels oor die menslike kondisie in die algemeen. In haar later werk verskuif die klem na die oudwordjare.
In die gedig “Hoor hierso” uit haar bundel Hierdie mens (2014) spreek die ek-spreker haarself aan in ’n satiriese, nie-bejammerenswaardige toon. Maar Ma, let net op na die humor wat daarmee saamgaan wanneer sy die gepaardgaande broosheid uitbeeld in ’n wêreld wat vir haar al kleiner word. Ma, en tussen die lyne deur breek daar vae skimme van opstandigheid deur.
Hoor hierso
Nee, my ou suikerpot, my skuimpie, my Lyle’s Golden Syrup,
die lewe is nie net soet nie, die suur kom etsend by,
die bitter is soos heksverdriet, van lag maak dit broek nat,
want die dood is massavermaak en denke ’n mank stut.
Dit is doodgaanseisoen en die swaels sit op weggaan se drade.
Ma, ek belowe, my woorde sal weer ligter word. In die tussentyd lag ek maar so knyp-knyp! Ek vermoed ek mag maar. Ek hét immers vier kinders in die wêreld gebring.
Baai Ma, van jou ou jongste.
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie