Ons taal
‘Land onder woorde’
Hallo Ma
En toe gebeur dit, Ma. ’n Kort e-pos wat sê ek kan maar die pakkie by die deppo gaan optel. Ek het die vrou met my oë gevolg vanaf die ontvangstoonbank tot waar sy ver agter in die stoor, hande in die sye ongeduldig wag dat die twee bokse te voorskyn moet kom.
Land onder woorde (Ronelle Rademeyer, dankie vir hierdie raakvat-titel) met 83 gedigte en 17 kortverhale is die produk van 27 kreatiewe Namibiërs. Die gedigte is onderverdeel in haikoes, rymende verse, die sonnet, die pantoen, die limeriek, kyk-gedigte en vrye verse, en as moontlike werktuig in die hand van ’n opvoeder, is elke kategorie ingelei deur aantekeninge oor die gedigsoort. Ook die tweede afdeling met kortverhale word voorafgegaan deur ’n inleiding oor die kenmerke van ’n geslaagde kortverhaal.
Ma, ons Namibiese leerders word dikwels in hul kennismaking met die Afrikaanse letterkunde gekonfronteer met voorgeskrewe werke wat Suid-Afrikaans georiënteerd is. Hopelik saai Land onder woorde by ons kinders die saadjie dat die kreatiewe skryfwerk van Namibiërs met hul fyn waarnemingsvermoë daadwerklik bydra tot die Afrikaanse literatuur in sy geheel.
Die ononderhandelbare liefde vir ons barre stuk aarde, die Namib-woestyn met sy onsigbare lewe, droogtes wat die laaste bietjie vog uit ’n grashalm tap en die lang afstande wat afgelê moet word as jy by die volgende dorp wil uitkom, is maar enkele temas wat aangeraak word. Saam met die swaarkry universeel aan menswees in ’n wêreld wat so in sy skik geraak het met homself, asook die humor wat daarmee gepaard gaan, word die Namibiër se ontembare gees van optimisme en ritme vervleg in die versreëls van gedigte en die paragrawe van verhale.
Mamma, ek wens só intens dat ek dit vir Ma kon wys.
Ma net nog ’n vragie: watter literêre temas is populêr daar waar Ma woon?
Baai my Ma
Jou ddk (diep dankbare klimmeit)
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie