Ons taal
Vang die haantjie
Ek het laas by julle afgepak oor die muis wat my snags die hoenders in gemaak het. So, dan is dit seker net regverdig dat ek ‘n hanetreetjie verder soek om ook die hoenders ‘n kansie te gee om koning te kraai. Terloops, daar sal geen haan na kraai oor hoe en wanneer die muis sy ry gekry het nie. Ek is net innig dankbaar dat ek nie meer elke oggend saam met die hoenders moet opstaan en voel soos ‘n haan waarvan die stertvere uitgepluk is nie of lyk soos ‘n hoender wat windaf wei nie. Ek het behoorlik myself laat dink aan ‘n natgereënde of selfs verkluimde hoender. Dalk het hy koers gekies toe ons een aand salig na die rooi haan (dis nou die vuur) gestaar het. Nog ‘n hoender wat kop uitsteek in my gedagtes. is die een wat nie ‘n eier kan lê nie – die haan wat spreekwoordelik op die kerktoring staan. En sy verlangse familielid wat die haan onder die henne is, die enigste man tussen die vroue, ofte wel Maljan onder die hoenders. Eersdaags is dit vakansie en weer tyd vir smul en jil. Sou iemand (te veel) gedrink het, en dan praat ek nie van windpompsjerrie nie, ek praat van tiermelk, kan ons sê hy is hoenderkop of in die hoenderhemel. Tiermelk klink vir my na iets soos bokmelk (‘n mengsel van vodka en kondensmelk), maar wyn drink was vir my nog nooit lekker nie. Ek dink ek sal daarvan begin hou as hoenders tande kry, perde horings kry en varke vlieg.
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie