Ons taal
Moedertaallekkerte
Eerskomende Maandag is Moedertaaldag. Dit maak my uit die staanspoor opgewonde, want dit gaan oor ONS TAAL, Afrikaans, en moedertale oral!
Dit slaan eintlik my asem weg as ek dink daaraan dat God ons so wonderbaarlik geskep het dat ons een dag (of nag) nog net gehuil het, dan op ’n dag begin herkenbare geluidjies maak het – waarvan mamma en pappa byna altyd die eerste is – en daar in die liefdevolle nabyheid van ons familie gebeur die wonderwerk sodat ons uiteindelik met netjiese patrone van klanke, woorde, sinne, paragrawe ens. laaaaaang stories vir mekaar kan vertel.
Taal is ’n geskenk van Bo! Die Chinese het ’n spreekwoord wat sê dat ons met die aanleer van elke nuwe taal ook ’n nuwe siel kry. En dit is tog op ’n manier so, want ’n taal se unieke uitdrukking gee aan ons ’n eiesoortige perspektief op dit wat ons waarneem.
Iemand vra my verlede week uit oor ons kinders. Hy het Oshiwambo as moedertaal en, soos my Oshiwambo, is sy Afrikaans gebrekkig. So, ons praat in eenvoudige Engelse sinne. Aangesien hy nie ons kinders se name ken nie, gebruik hy verduidelikings om tussen hulle te onderskei.
Die seun was natuurlik maklik identifiseerbaar, maar daar is twee dogters, en daarom moes ons meer sinne gebruik. Ek gryp toe maar na haarkleur en vra of hy bedoel die een met die wit hare, waarop hy onmiddellik reageer met: “No, the one who took your face.”
Ek het dadelik geweet van watter een hy praat! In Afrikaans het baie mense al gesê sy lyk na my, maar dis die eerste keer wat iemand sê sy het my gesig gevat. Hoe wonderlik dat sy moedertaal (al is dit dan nou via Engels) ook my moedertaal verryk. Ons moet al ons moedertale respekteer, want as ons slegs beperk is tot een taal, beland soveel kosbare segswyses net op die grond.
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie