Ons taal
Geskiedenis soms in ’n naam opgesluit
Dis vir my ’n groot bron van seën om in die natuur te kan woon. Ons Engelakind het mos besluit ’n mens behoort ’n woonbuurt in die natuur ’n natuurbuurt te noem – ek reken sy is in die kol. Hier tussen die klippe in die Auasberge voel dit soms vir my of ons woonplek se naam ewewel Seënsteen kon wees, want in Namibië is reën en seën mos so te sê sinonieme! Dit laat my nou dink aan jare gelede toe ons Christo wou weet wat Regenstein beteken. Nadat ek vir hom mooi verduidelik het dat Regen tog reën beteken en Stein weer klip beteken, sê die vyfjarige ewe ingenome: “O, dan beteken Finkenstein seker Dinkklip, want fink is mos dink, né Mamma?” Ek het lekker gegiggel oor die kostelike afleiding as gevolg van die tipiese uitspraakfoutjie van Afrikaanssprekende kindertjies, want ’n “f” is haas die naaste bekende klank vir die ongekende “th” in Engels. Maar natuurlik was hy verkeerd en is die naam in werklikheid afgelei van die destydse eienaar wat Finke geheet het.
Op my rak staan Die ensiklopedie van name in Suidwes-Afrika van A.P.J. Albertyn. Die boek dateer wel uit 1984, maar dis steeds ’n kosbare bron van inligting. Terwyl ek deur die boek blaai, lees ek skielik ’n naam wat my ver terugvoer – Amaria. Ek lees gretig verder! Dis Arabies en die naam van ’n oase in die Saharawoestyn waar die soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog gestasioneer was. Die weersomstandighede was guur en die huis was baie ver. Na sy terugkeer het my oupa Andries Carl Eduard Alexander Faculin Gous sy plaas só genoem met die hoop dat sy swaarkry hier in lekkerkry sal verander. Ek sit die boek terug op my rak – verstom dat daar soveel in ’n naam kan lê – en ek weet sy hoop het ’n werklikheid geword terwyl ek in my geestesoog nog sien hoe hy hom verlekker aan ouma se melkkos.
Petronella F Genis
[email protected]
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie