Ons Taal: Bevryde vrou
Hallo Ma,
Wat is die posisie van die vrou daar waar Ma bly? Ja, Ma, ek bedoel as ‘n mens dit nou moet vergelyk met hoe dit hier op onse ondermaanse gaan. Wie maak die kos? (Ma, moet nou net nie vir my sê julle hoef nie daar te eet nie!) Wie sny die gras en wie vee die goue strate? En is daar vullisdromme wat iemand moet leegmaak, en wie doen dit dan?
Ma, die sewende Windhoek Woordfees is net om die draai, en waarna ek baie uitsien, is om Antjie Krog hier te ontvang. Sy is ‘n bevryde vrou wat nie skroom om dinge te sê wat lankal gesê moes gewees het nie.
In haar gedig getiteld “ek staan op ‘n moerse rots langs die see by paternoster” bevind die vroulike spreker haar op daardie einste rots langs die Suidkus se woeste see en kyk hoe die branders “slingers (slat) in die lug”.
Sy kyk “elke brander in sy gut voor hy breek”, en “die rotse sidder onder (haar) sole”.
Haar bekke(n) “smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit”. (Ma, as daar by Ma se plek kinders gebore word, is dit steeds die vrou wat hulle in die wêreld, nee, in die hemel, bring?)
In Krog se gedig is see, rots en branders simbole vir manlike oorheersing, maar Ma, daardie vrou weier om onder die elemente se aanslae te breek.
Hier waar ek bly, is daar vroue, baie van hulle gebreek en baie stukkend, en openlik bloeiend.
Ander is “net” gekneus, bloeiend onder die vel, skynbaar weg van starende oë. Nee, Ma, ek is nie opstandig nie. Ek wil net hê dat vroue sterk moet word om self see, rots, klip en duin te wees.
Ma, het Ma-hulle ‘n see? En Ma, nog net ‘n laaste vragie: ás daar babas gebore word, is hulle dan engeltjies?
Baai, my Engel-Ma

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie