ONS TAAL vir DINSDAG 24 DEs
Deel van lekker vakansiepret is mos lekker eet, oftewel smul!
Ek kom af op 'n voorbeeldsin in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) wat my lekker laat lag: “Ek het 'n passie vir kos en lees resepteboeke soos ander hygromans lees.” Hierdie kostelike sin het my pad gekruis danksy een van die mense wat die heel lekkerste kos maak, my Tannie Lien. Hier is haar skaars woord vir ons kosbare vakansiewoordeskatkis: pollevink! Dié pragwoord het twee betekenisse.
Eendersyds verwys dit op 'n mooier manier na 'n gevryery, of soos my skoonsus sê na 'n gevlermuis-vlermuis. Maar andersyds verwys dit bloot na 'n lekker gekuier.
En toe ek daardie spoor sny, ontdek ek 'n hele swerm woorde van eenderse vere in die woorddam. Pollevink, rinkink, rondjakker, katterjak, kattemaai, karjol, ravot en baljaar verwys als na groot jolyt. En binne perke is daar niks mee fout nie, dis maar net 'n bietjie lawaai en miskien ook onskuldige kattekwaad, maar ons weet mos van daai woordjie TE. Dis 'n kort woordjie wat 'n lang string nagevolge kan hê. Te veel kan lei tot 'n katastrofe. Hierdie woord kom uit die Griekse letterkunde, en verwys na daardie deel van die storie waar die intrige ontrafel of ontknoop word en die (soms treurige) einde aanbreek. In die alledaagse gebruik, verwys dit na 'n oorweldigende gebeurtenis met ontwrigtende en selfs rampspoedige effek.
So, liewe lesers, as julle kattemaai, doen dit verantwoordelik en systap liefs die katastrofes.
Petronella F Genis
Facebook: Woordspoor
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie