Ons Taal: Woord en klank betoor
Hallo Ma,
Gisteraand het ek net weer besef hoe kragtig die woord op 'n oop gemoed inwerk. Ek en Ronelle en jou kleinseun het die voorreg gehad om 'n poësie-aanbieding te lewer voor 'n lekker gehoor. Die Namibiese Vrouevereniging was gasheer vir die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbouvereniging, en dit is voor hierdie formidabele vroue wat ons kon optree. Soos Ronelle gesê het, is dit vroue wat hul tyd en vaardighede aanwend om ander vroue, wie se omstandighede minder gunstig is, te bemagtig.
En Ma weet self sulke diensbaarheid, sonder die wete dat jy noodwendig iets gaan terugkry, is maar 'n skaars verskynsel.
Ons program, So issie lewe vir een-pond-sewe, het gedigte bevat wat gaan oor huispaaiemente, oor God, oor die vrou in al haar fasette (hoog geag én misbruik), en oor die lekker en mooi dinge in die lewe – soos kos en engele.
En Jan-Willem het die program aangevul, of heel waarskynlik gedra, met sy musiek en gedigte wat hy getoonset het.
Vir ons al drie was dit 'n uitsonderlike ervaring. Vir my het die saamdoen met Ronelle voelbaar nuwe energie aan die voorstelling gegee, en ek weet dat dit vir haar – dit was haar eerste keer – ook goed was.
En Jan-Willem was ook heel tevrede, synde een van drie mans in 'n gehoor van 200 siele, en hy kán maar daai kitaar slat. Sy interpretasie van die lirieke, tesame met die teks, word met elke voorstelling ryper.
Maar die beste was die gehoor se meelewing.
Dit is 'n gee-en-neem-én-teruggee-situasie.
Die woord en musiek gee, die gehoor neem dit, geniet dit, en gee in hul oë hul waardering terug. En dan voel ek as kunstenaar soos 'n begunstigde.
Eintlik was ons drie slegs die gunstige omstandigheid waardeur woord en klank betoor.
Het Ma ons dalk gehoor? Of was die wolke te dik gepak?
Baai, my Ma.
Dr. Chrisna Beuke-Muir
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie