u2018Ons wil leeru2019
u2018Ons wil leeru2019

‘Ons wil leer’

Leerlinge wat aan ’n landswye opname deelgeneem het, was dit meestal eens dat hulle wil terugkeer skool toe.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Meer as 63% respondente wat leerlinge, ouers en onderwysers insluit, het in ’n opname oor die terugkeer van leerlinge na die skoolbanke gestem dat skole weer moet heropen.

Volgens die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, me. Sanet Steenkamp, het 18 000 mense op die ministerie se landswye opname gereageer. Hiervan was meer as 8 000 ouers, 2 900 leerlinge, 4 000 onderwysers en 700 skoolhoofde. Volgens Steenkamp was 48% van gemeenskapslede ten gunste daarvan dat skole heropen.

Sy het beklemtoon veral die stemme van kinders was baie belangrik.

“Die redes vir hulle was hulle leer, speel en eet. Die oorgrote meerderheid het gesê ‘ons wil leer’.”

Met verwysing na watter leermetodes vir hulle die suksesvolste was tydens die sluiting, was die meeste eens werksboeke wat verskaf is. Ook is die voortgesette kommunikasie en leiding van onderwysers op leerlinge se selfone uitgesonder.

Die meeste terugvoer is van die Khomas-, Erongo-, Otjozondjupa- en ||Kharasstreek ontvang.

Steenkamp sê unies en bestuursrade is ook betrek.

Sy het gemaan “ons moet besef ons moet aan die nuwe normaal gewoond raak. Dit kan net versterk word as gemeenskappe saamwerk.

“In die nuwe normaal is daar baie skole waar die opset soos dit nou is, maak dat dié skole 100% van hul leerlinge vir vyf dae kan terugbring. Waar infrastruktuur beperk is, word die pelotonstelsel ingebring waar leerlinge in twee groepe skoolgaan. Dit sal beteken daar is sekere kinders wat nie vyf dae per week skoolgaan nie en skole moet hul rooster hiervolgens aanpas,” het sy gesê.

Sy het verwys na die nuwe tydgebaseerde groepe en gesê dit word gevolg na gelang van klasgroepe en die rooster wat deur onderwysers gevolg word.

“Dit beteken sekere dae, sekere klasse.”

Steenkamp het erken dit is ’n “groot uitdaging” en moet in die fynste besonderhede deur skole beplan word.

Sy het beklemtoon ouers het steeds die opsie om eerder met aanlyn onderrig voort te gaan. Dit moet in oorleg met die skool geskied en dié leerlinge is steeds deel van die bywoningsregister.

Sosiale afstand sal in klasse gehandhaaf word, met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) wat volgens Steenkamp riglyne gewysig het van 2,5 meter na minstens 1 meter.

Die uitdaging lê egter in koshuise waar kinders wat vir verblyf in aanmerking kom, steeds geakkommodeer word.

“Ouers moet hier eienaarskap neem om te verseker dit is regtig net leerlinge wat buite die 5 km radius woon wat in koshuise is.”

Volgens Steenkamp is agt weke van die skoolkalender oor vir “speel, leer en groei” en is dit noodsaaklik dat kognitiewe ontwikkeling moet plaasvind.

“In ’n klaskamer en skool is kinders in ’n beheerde, veilige omgewing. Daar is oogkontak en sosialisering; kinders is nie op strate of toegesluit in ’n kamer nie.”

Onderwysers met onderliggende toestande kry ook die vergunning om van die huis af te werk.

“Ons verwag van ons onderwysers om ook verantwoordbaar te wees. Ons sal moet gewoond raak aan aanlyn onderrig.”

As deel van die ministerie se motivering vir skole om te heropen, is nie net na gesondheidsprotokolle gekyk nie, maar het ook gaan kers opsteek by lande in die res van die wêreld.

Sterk mediese verslae wat gebruik is, sluit in dié van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging ter ondersteuning van die heropening van die buurland se skole.

Volgens die verslag hanteer kinders die virus biologies beter as volwassenes; hulle is minder geneig om besmet of ernstig siek te raak en hul simptome is ligter; hulle is minder geneig om aan Covid-19 te sterf en hulle is moontlik ook minder aansteeklik as volwassenes.

Hoewel kinders ’n hoër risiko het om besmet te word wanneer hulle na skole terugkeer, weeg hul terugkeer na die skoolbanke swaarder as die bykomende risiko vir hulself en ander.

Volgens Steenkamp is daar geen data wat wys die sluiting van skole beheer die land se vlak van oordrag nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!