'Ons Yva is reeds genees'
Die ouers van 'Karasburg se blommetjie' sê hulle sal hul dogtertjie se kankerbehandeling met geloof oorleef.
Henriette Lamprecht
In die Unitas-hospitaal se pediatriese onkologiesentrum in Pretoria is 'n kleine blondekoppatroon besig met die geveg van haar lewe.
Yva Adriaanse, “Karasburg se blommetjie” is op 13 maande met limfoblastiese leukemie gediagnoseer, nadat dokters aanvanklik gedink het 'n knoppie langs haar wang, wat al hoe groter geword het, is pampoentjies.
Die probleem was toe heelwat ernstiger, vertel ma Yvette, en haar jongste dogtertjie moes dadelik met aggressiewe hoërisiko-chemoterapie begin.
Hul jongste se diagnose was vir hulle as gesin, familie en vriende 'n baie groot skok, erken Yvette.
“'n Mens dink mos altyd dinge gebeur met ander mense. Dan besef jy met 'n skok jy kan nie uitgesonder word nie. Enige ramp kan enigiemand te enige tyd tref,” vertel sy.
As volwassene moet jy verseker jou geloof en gemoed is sterk genoeg om deur moeilike tye in jou lewe te werk.
“Vir seker glo ek dat jy niks as mens kan doen sonder die Here wat jou bystaan in alle aspekte nie. Sonder Hom kan jy maar net so wel moed opgee.”
Die gesin se keuse vir Yva se behandeling was die Unitas-hospitaal, omdat Yvette se ouers in Pretoria woon en hulle hier tydens haar lang behandeling kon tuisgaan. Die behandeling het sy tol van klein Yva geëis, sê Yvette.
“Sy was baie siek van die chemoterapie en was gereeld in die hospitaal.”
Yva sou aanvanklik nege maande lank chemoterapie in Pretoria ontvang, maar ná die eerste maand het toetse getoon sy het só goed op die terapie gereageer dat dokters volgens Yvette besluit het om haar na standaardbehandeling te laat oorskakel.
“Ons is oneindig dankbaar daarvoor, want dit beteken net een keer per week se chemo. Die tydperk wat ons in Pretoria moet bly, is ook aansienlik verminder,” sê sy.
Volgens Yvette gaan Yva wel aan die einde van haar behandeling meer chemoterapie moet ontvang.
“Daarna sal sy vir twee jaar een keer per maand chemo kry.
“Ons sal ook een keer elke drie maande vir opvolgbesoeke Pretoria toe moet gaan.”
Die Adriaanse-gesin beskik wel oor 'n mediese fonds en finansieel het vriende en familie hulle tot dusver baie goed bygestaan, sê Yvette.
“Ons het egter geld nodig gehad vir vervoer sodat haar pa ten minste een keer per maand uit Namibië kon kom kuier. Ons het wel genoeg vir alledaagse benodigdhede gehad.”
'n Trust is vir Yva gestig om voorsiening te maak vir rekeninge wat hul mediese fonds moontlik nie sal uitbetaal nie en wat ook uitgawes soos vervoer insluit.
“Tot dusver beloop die hospitaal- en chemorekening R110 000 en dié van die patoloë R80 000.”
Danksy “almal se ontsettende goeie ondersteuning en gebede wat verhoor is”, kan die Adriaanses sê hulle is “oukei”, sê Yvette.
“Ons sal ook hierdeur heel aan die ander kant uitkom. Ons glo en vertrou Yva is reeds genees en dat die pad vorentoe net voorspoedig sal wees.”
Die Yva Adriaanse-trust se besonderhede is: Bank Windhoek, Mariental-tak: 481-471, rekeningnommer: 800 907 7071 (tjekrekening).
Vir navrae, skakel mnr. Johan Adriaanse by 081 124 7757.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie