Onsekerhede knou ekonomiese groei - nie net in SA
Die voortslepende handelsoorlog tussen Amerika en China het ook op Europa ’n uitkringende negatiewe impak.
Ulrich Joubert – Die verwagting is dat die wêreldekonomie vanjaar teen minder as 3% sal groei. Soos gewoonlik word voorspel dat daar in 2020 ’n verbetering in hierdie groeikoers sal wees.
Indien die huidige onsekerhede, wat veral investering belemmer, egter in aanmerking geneem word, is dit nie duidelik waar hierdie versnelde groei vandaan sal kom nie.
Die voortslepende handelsoorlog tussen Amerika en China het ’n uitkringende negatiewe impak op nie net dié twee ekonomieë nie, maar ook op die uitvoergeoriënteerde ekonomieë van Europa. Aanduidings is dat die Duitse ekonomie reeds in ’n resessie is, wat op sy beurt weer ’n negatiewe impak op ander Europese lande het.
Die handelsoorlog behels dat Amerika invoertariewe hef op ’n wye verskeidenheid Chinese invoerprodukte, waarop China reageer deur tariewe te hef op veral Amerikaanse landbouprodukte.
Die tariefverhogings het ’n groter impak op die groei van die Chinese ekonomie as die Amerikaanse ekonomie. Vanjaar se meer as 6%- Chinese groei kan in 2020 minder as 6% wees. Dit beïnvloed lande wat kapitaalgoedere aan China lewer, soos Duitsland en Japan, ontluikende lande in die Verre Ooste, kommoditeitsuitvoerlande soos Suid-Afrika en ook olieproduserende lande weens die verwagte swakker vraag in 2020.
Amerika ervaar tans die impak van die handelsoorlog in mindere mate, maar die groeikoers word wel benadeel en die meer as 2% van 2019 kan in 2020 minder as 2% wees.
Pres. Donald Trump dink die Federale Reserweraad moet net rentekoerse verlaag en dan sal die Kaap weer Hollands wees, terwyl die eintlike vlieg in die salf sy handelsoorlog is wat onsekerhede skep en maatskappye verhinder om te investeer, nieteenstaande baie lae rentekoerse.
Brexit-onsekerheid
Europa en Brittanje word verder benadeel deur die onsekerhede weens Brexit – veral indien Brittanje die Europese Unie (EU) op 31 Oktober sonder ’n ooreenkoms verlaat. En dit is moontlik, want die EU het blykbaar genoeg gehad van die Britte se besluiteloosheid.
EU-lidlande kan dus besluit dat hulle nie verder uitstel sal gee en onderhandel nie. Brittanje sal dan noodgedwonge die EU einde Oktober sonder ’n ooreenkoms verlaat. Dit kan nóg groter onsekerhede in Europa veroorsaak, groei benadeel en Brittanje in 2020 in ’n resessie dompel.
Die Chinese ekonomie word deur die handelstariewe benadeel. Die reaksie hierop is om die ekonomie deur ’n meer akkommoderende monetêre beleid te stimuleer, waardeur al hoe meer krediet geskep word. Die uitstaande Chinese skuld is reeds meer as 300% van die totale ekonomie en die vraag ontstaan hoeveel meer stimulus die ekonomie kan absorbeer?
Weens die handelsoorlog verskuif veral vervaardigingsbedrywe tot die irritasie van Trump na ander lande in die Verre Ooste, soos Viëtnam en Bangladesj. Die vraag na kommoditeite word beïnvloed deurdat al hoe meer klem op die Chinese dienstesektor as die vervaardigingsektor geplaas word as die bron van toekomstige groei.
Monetêre en fiskale beleid
Die wêreldekonomie kan in 2020 swakker vaar as vanjaar, veral as daar nie gou ’n oplossing vir die handelsoorlog kom nie.
Sedert die Groot Resessie van 2009 was die klem veral op monetêre beleid om te verhinder dat die resessie ’n depressie word. Rentekoerse is verlaag en is tans in menige land negatief sonder dat ekonomiese groei dramaties versnel of inflasie noemenswaardig gestyg het. In die groot nywerheidslande is inflasie steeds minder as die 2%-mikpunt. Die Chinese mikpunt is 3% terwyl inflasie tans 2,8% is. Korttermynrentekoerse kan verder verlaag word in die VSA en Japan, met stabiele koerse in Europa.
Tereg word gevra in watter mate nóg laer rentekoerse daarin sal slaag om te voorkom dat die wêreldekonomie in ’n resessie beland. Moet daar nie meer klem geplaas word op fiskale beleid om die ekonomie deur infrastruktuurontwikkeling te stimuleer nie?
Die Suid-Afrikaanse ekonomie word nie net deur internasionale onsekerhede nie, maar ook deur plaaslike onsekerhede benadeel:
· Eiendomsonteiening sonder vergoeding.
· Hoe gaan Nasionale Gesondheidsversekering gefinansier word en hoe gemaak met die gebrek aan kundigheid en geriewe?
· Sal die begrotingstekort onder beheer kom?
· Sal die arbeidsmag in die openbare sektor tot aanvaarbare vlakke verklein word?
· En werkloosheid? Sal die arbeidsbedeling meer indiensnemingsvriendelik gemaak word? Sal onderwys- en opleidingstandaarde verbeter word sodat aan die markvraag voldoen word?
· Kan munisipaliteite finansieel gered word sonder om plaaslike gemeenskappe dood te wurg met te hoë en steeds stygende tariewe en belastings?
· Kan die beleidsraamwerk waarbinne die ekonomie funksioneer, sakevriendelik gemaak word deur kruipende sosialisme te beperk en die groeipotensiaal van die ekonomie te verhoog van die huidige sowat 1% af? Indien nie, bly die groeipotensiaal op 1% en in jare waar die internasionale ekonomie en veral ons uitvoermarkte verswak, op minder as 1% – veral indien ’n droogte die ekonomie verder benadeel.
Ons kan bogenoemde probleme en onsekerhede oplos, maar dit verg sterk en duidelike leierskap wat fokus op die ekonomie en nie op partypolitiek nie.
· Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie