Onsekerheid oor beleid ’n euwel
Die indeks vir alle aandele op die JSE het tussen die middel van Januarie en die einde van Januarie met ’n volle 5% gedaal.
Roelof Botha
Die ekonomie hou nou net eenmaal nie van onsekerheid nie. Daarvoor bestaan talle bewyse, soos pas weer deur die uitbreking van ’n coronavirus in China getoon is.
Ten spyte daarvan dat dié virus (ook genaamd die Wuhan-griep) nie so dodelik is soos ander virusse, soos Spaanse griep, Ebola, voëlgriep, pokke of die verwante respiratoriese virus ears nie, het finansiële markte oral in die wêreld met ’n mate van paniek gereageer.
Miljoene Suid-Afrikaners sou einde Januarie een van die onaangename gevolge hiervan op hul maandelikse beleggingstate gesien het. Die indeks vir alle aandele op die JSE het tussen die middel van Januarie en die einde van Januarie met ’n volle 5% gedaal – bepaald slegte nuus vir iemand wat na aan aftrede is.
Sulke bewegings op aandelemarkte is egter normaal en vind aanhoudend plaas. ’n Mens moet net bietjie geduld aan die dag lê en seker maak dat jou beleggingsadviseur bekwaam genoeg is om koopgeleenthede raak te sien, veral kort voordat dividende deur winsgewende maatskappye betaal word.
Die goeie nuus is dat die indeks vir alle aandele teen etenstyd op 5 Februarie weer met 2,6% verstewig het en teen sluitingstyd byna 8% hoër was as ’n jaar gelede.
Daar bestaan egter ’n ander vorm van onsekerheid wat al geruime tyd die land se ekonomie opkeil en wat strukturele skade berokken aan die vermoë om werk te skep.
Dit spruit uit die gesloer van die regering om pres. Cyril Ramaphosa se nuwe beleidsbenadering in werking te stel.
Daar word nou al twee jaar lank belowe dat deregulering van onnodige beperkings op die uitbreiding van sakebedrywighede gaan plaasvind, veral die gesloer met al die permitte, lisensies en goedkeuring wat op sentrale, provinsiale en munisipale vlak vir nuwe vaste investering nodig is.
Volgens dr. Kgosientso Ramokgopa, hoof van die regering se nuutgestigte kantoor vir infrastruktuur-beleggings, neem dit dikwels langer as twee jaar vir ’n belegger om deur die dam van regulasies op alle regeringsvlakke te swem. Hy het tydens ’n onlangse mynboukonferensie in Kaapstad gesê dat sy kantoor daarvan werk gaan maak om dié prosesse heelwat te versnel.
Nóg ’n uitdaging is om die tydsduur vir die totstandkoming van vennootskappe tussen die staat en die private sektor om infrastruktuur uit brei aansienlik te verkort.
Ongelukkig is weinig van die talle beloftes oor groter samewerking met die private sektor en deregulering tot nou toe nagekom. So byvoorbeeld is Gwede Mantashe skynbaar te besig met die samevoeging van die departemente van minerale hulpbronne en van energie om daadwerklike aandag aan die land se nypende energietekort te skenk.
Verskeie mynboumaatskappye en organisasies, soos die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Windenergie, het reeds te kenne gegee dat hulle die aanbod van elektrisiteit aansienlik kan verhoog, maar Mantashe se departement sloer met die nodige goedkeuring.
Dit laat die vraag ontstaan of Ramaphosa op die volle steun van almal in die nuwe kabinet kan staatmaak.
Die louwarm reaksie op die tesourie se nuwe groeibeleid bevestig die vermoede dat heelwat senior ANC-ampsdraers salig onbewus is van die skade wat beleidsonsekerheid die ekonomie berokken.
Dit is tyd vir Ramaphosa om kaalvuis onder die dwarsbomers in te klim en sperdatums vir die inwerkingstelling van die nuwe groeibeleid daar te stel, met of sonder goedkeuring van die ekonomie se grootste remskoen, Cosatu.
*?Dr. Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie