Onsigbare ‘oë’ vir beter veiligheid

’n Vennootskap tussen die buurtwag op Otjiwarongo en die boerevereniging se radioklub het tot die vorming van ’n misdaadvoorkomingsforum met een van die grootste CCTV-netwerke en beste plaasbeveiliging in die land gelei.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die goeie samewerking tussen die buurtwag op Otjiwarongo en die radioklub van die boerevereniging onder aanvoering van mnr. Thinus Pretorius, het die afgelope jare groot suksesse in die vinnige opsporing van verdagte wilddiewe en ander vermeende misdadigers gehad.

Die boerevereniging se noodkomitee, of reaksie-eenheid, is aanvanklik gestig om met die bekamping van veldbrande in die distrik te help. Die radioklub was ’n logiese uitvloeisel.

Later is twee hommeltuie ook aangeskaf en só het die werksaamhede uitgebrei tot plaasbeveiliging en die bekamping van misdaad.

Ná die moord op die Windhoekse sakeman mnr. Hardy Koehler in Desember 2015 op sy ouers se plaas noord van Sukses, is egter besef méér as radioverbinding is nodig om, soos in hierdie geval, vlugtende moordenaars vas te trek.

Was daar tydens dié noodlottige nag se soekoperasie kringtelevisiekameras (CCTV) op strategiese plekke, kon die aanvallers dalk vinnig aangekeer word.

Pretorius, wat ook die Otjiwarongo Boerevereniging se streeksverteenwoordiger op die uitvoerende komitee van die Namibië Landbou-unie (NLU) is, sê die buurtwag en die radioklub het toe besluit en saam te smelt en die Otjiwarongo Misdaadvoorkomingsforum is gestig.

Die lede het dadelik begin om die oprigting van ’n CCTV-netwerk vir video-monitering op die dorp asook op plase in die distrik te ondersoek.

“Vishoek in die Kaap is een van die plekke waar CCTV-monitering baie doeltreffend teen misdaad gebruik word. Ons het egter besef ons moet dit baie groter maak as net die dorp, want plaasbeveiliging is ewe belangrik.”

Mnr. Gerhard de Vos, van die rekenaaronderneming iTech, is genooi om ’n voorlegging te maak oor die tegnologie wat beskikbaar is, en die munisipaliteit het ingestem om ’n gebou by die skouterrein gratis aan die misdaadvoorkomingsforum beskikbaar te stel sodat dit as beheerkamer gebruik kan word.

Nored het ook aangebied om die elektrisiteit wat gebruik word, gratis te voorsien.

Met skenkings deur die boerevereniging en die buurtwag is die CCTV-kameras en rekenaarnetwerk aangeskaf.

Infrastruktuur

“Ons beskik tans oor vier seinherleiers in die omgewing en het reeds 26 gemonteerde kameras waarvan die beeldmateriaal deur wie ook al in die beheerkamer aan diens is, gemonitor kan word,” vertel Pretorius.

Die beeldmateriaal kan in die rekenaar se geheue gestoor word, wat baie handig is wanneer ondersoeke en opvolgoperasies gedoen word.

“Hierdie is nie iets wat oornag gebeur nie. Daar is maar groeipyne. Ons moes byvoorbeeld ’n regsmening inwin oor kwessies soos sekerheidsklaring, aanspreeklikheid en privaatheidskending.

“Ons het besef ons sal net vir mense met sekerheidsklaring toegang tot die beheerkamer kan gee, aangesien sensitiewe inligting ter sprake kan wees.

“Een van die probleme wat byvoorbeeld met kameras langs grondpaaie ondervind word, is die stof wat deur voertuie veroorsaak word. Dit is dié tipe goed waarvoor oplossings gevind moet word.”

Hy sê daar is uit die staanspoor besef die netwerk sal in fases uitgebrei moet word soos daar geld beskikbaar is.

Die noodsaaklike infrastruktuur is egter opgestel en boere kan nou op strategiese plekke op hul plase CCTV-kameras aanbring waarvan die beeldmateriaal na die beheerkamer herlei word.

“Ons kan monitering tot so ver as Osire bied. Ek weet nie van nóg so ’n wye netwerk in die land nie.”

Pretorius sê boere moet veilig voel op hul plase. “Hulle moet kan boer en nie wilddiewe en beesslagters jaag nie.”

Hy sê een van die primêre funksies van ’n boerevereniging is deesdae om die landbougemeenskap se moraal hoog te hou.

“Die toename in wild- en beesdiefstalle en ander misdade maak die boere moedeloos. Ons wil dit voorkom.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!