Onskuldig, su00ea Nawa-Mukena
Onskuldig, su00ea Nawa-Mukena

Onskuldig, sê Nawa-Mukena

'n Voormalige bemarkingsbestuurder van MultiChoice het gister (19 Sept) onskuldig op die klagte teen haar in die Windhoek landdroshof gepleit.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Me. Manga Nawa-Mukena, wat voorheen as bemarkingsbestuurder in diens van MultiChoice Namibia was, het gister vlugtig in die Windhoek landdroshof voor landdros Gerrit van Pletzen verskyn om te pleit in die saak waarin sy van bedrog teen haar voormalige werkgewer beskuldig word.

Nawa-Mukena, wat tereg staan op klagte van bedrog, vervalsing en die verspreiding van vervalste dokumente, het onskuldig op al die klagte teen haar gepleit.

Mnr. Orben Sibeya wat namens Nawa-Mukena optree, het aan die hof gesê 'n bemarkingsdiensverskaffer het dienste aan MultiChoice gelewer en die betalings wat verband hou met die klagte is aan hierdie maatskappy gedoen.

Volgens die klagstaat het Nawa-Mukena bedrog gepleeg deur haar posisie as bemarkingsbestuurder van MultiChoice Namibia te misbruik deur 80 fakture vir advertensies by New Era se publikasie Kundana te vervals. Na bewering is die fakture goedgekeur asof dienste reeds deur Kundana gelewer is en Nawa-Mukena se eie bankbesonderhede is as dié van Kundana aangebied.

Dit word beweer die beskuldigde het onder valse voorwendsels MultiChoice se hoofbestuurder, mnr. Roger Gertze, of MultiChoice oorreed om N$2 088 071 in haar persoonlike bankrekening in te betaal vir advertensiedienste wat nooit gelewer is nie.

Die saak is tot 17 November vir 'n beslissing deur die aanklaer-generaal uitgestel.

Nawa-Mukena, wat op borgtog van N$50 000 vrygelaat is, se borgtog is tot hierdie datum verleng.

Mnr. Tatelo Lusepani het namens die staat opgetree.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer