Onskuldige ongeluk kweek u2018n stokkiesbaard
Onskuldige ongeluk kweek u2018n stokkiesbaard

Onskuldige ongeluk kweek ‘n stokkiesbaard

Dani Booysen
Des Erasmus - Die eintlike storie wil ek nie vertel nie, omdat dit ligsinnig deur “fans” en “foes” oorvertel gaan word.

Die tema is die verandering van my “shape” op ‘n Donderdagaand. Dit herinner aan die blondine wat vertel het hoe wonderlik dit is om met ‘n dokter uit te gaan. Elke aand lyk hy anders.

Wel, Vrydagoggend verskyn ek met my “new look” op straat ná ‘n voordagse besoek aan ‘n arts en ‘n afspraak met nog een of selfs twee wat wag. Hoedjie op die kop om die wonde te bedek, voorkop en neus bebloed, ‘n sleeptong soos ‘n dronkie uit vrees dat my voortande gaan uitval, lang moue oor die pimpel en pers van die voorarms en ‘n effense mankerigheid weens ‘n knie wat ook geknak het.

Amper soos oorle Oerie van lank gelede nadat hy oestyd in die drom van die dorsmasjien geval het. Met verwysing na al sy krankemente het hy net een kommentaar: “Dis met dankbaarheid dat ek lewe.”

Behalwe die kere wat ek gevra word, word swygend deur die aanwassende bevolking van Swakopmund beweeg. Kan die nuuskieriges hulle nie meer inhou nie, vra hulle reguit wat het dan gebeur. Daarop het ek net een antwoord: “Julle moet sien hoe die ander ou lyk. Ek dink hy swel nog steeds.”

Nie lank nie of die storie se stoppelbaard wys.

“Is dit nie ‘n skande nie, ou Desman het nie tande nie,” bereik een weergawe die ore. Dan word vertel die ou was soos ousedae in ‘n regte, egte kroeggeveg betrokke. Daar by die poelbaltafel het die moleste begin. Toe tref sy opponent hom met die vatkant van ‘n snoekerstok op sy voortande. Die goed was glo met ‘n besempie en ‘n skoppie op die vloer bymekaar gevee.

‘n Skinderjors las aan dat die wonde op sy voorkop veroorsaak is deur een van die vegters wat hom met ‘n gebreekte bottel se skerf bygekom het. Die skouerstuk van die gebreekte kan met die martelwater het hom op sy neus se brug getref en die sny bokant sy oogbank oopgeruk.

En die gewrig wat gebreek lyk en die potblou op ‘n elmboog? En die bloedplas op sy regterbeen? En die stywe nek asof hy te lank in ‘n koue nagwind gesit het?

“Dit was toe een van die vegters hom joejitsoe gegooi het. Blykbaar oor sy skouer en sommer by een van die hool se vensters uit,” sê ‘n ander.

Die speletjie raak al hoe lekkerder en daar word saamgespeel. “Kom daarvan as jy nie jou size pick nie,” por ek aan. En daar word verneem of iemand nie die ICU geskakel het om te verneem hoe dit met die ander ou gaan nie.

Vir die horde wat lag en die enkeles met meegevoel moet die werklike storie dalk tog vertel word.

Het mos die Donderdagaand daar by die kerslig sit en speel waar drome deur die druppende was gevoed word. Toe roep die helder vrouestem vir aandete. Blaas die kersie dood, sukkel met die stram knieë op en durf die bekende donker paadjie soos altyd aan.

Toe tuimel ‘n kantoortas van ‘n tafeltjie en tref my teen die enkels, doer waar Ryk van Schoor van lank gelede sy senters laaggevat het. Toe tiep ek met ‘n duik- en valslag vorentoe. Eers teen ‘n eerste deur en toe al struikelend teen ‘n tweede van die daai konsertinatipe.

Dit was daar waar twee jong mans my al beurend in my eie huis weer regop gekry en na ‘n stoel gehelp het. Die stamp-, skuur- en snyplekke is met aartappel- en klapperolie behandel terwyl ek my beserings op seer vingers afgetel het.

Ek het myself met ou strofes herlaai. Om te val is nie die kuns nie, om op te staan is wel die kuns. So het ek myself vertel.

Terug by my val- en sitplek is ‘n Bybel oopgeklap met ‘n teksie in ‘n ouma se gebroke handskrif en nog met die reste van die ou Hooghollandse skryfstyl:

“En al’s ek strijkel, laat my tog nie val”.

Dis die rêrige storie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!