Ontbloot mensehandel só

Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith - In die verlede het versoeke om seks­werk in Namibië te dekriminaliseer op verbeterde gesondheidsorg en veiligheid vir sekswerkers gefokus, maar aktiviste teen mensehandel in die VSA glo dit kan ook tot die ­ontbloting van mensehandel lei.

Mense wat met slagoffers van mense­handel werk, sê slagoffers is dikwels huiwerig om hul situasie aan te meld omdat hulle deur die polisie en ander owerhede misbruik word.

“Ons glo die beëindiging van mense­handel begin met die dekriminalisering van sekswerk, sodat dié wat daarby betrokke is, teen misbruik beskerm kan word wanneer hulle dit rapporteer,” het me. Jean Brugge­man, Freedom Network in die VSA se uitvoerende direkteur, by 'n nuus­konferensie in Washington DC gesê.

Volgens haar is die dekriminalisering van sekswerk en die opleiding van wetstoepassers en ander diensverskaffers wat op menseregte fokus, in plaas daarvan om slagoffers te straf, die sleutel tot die ontbloting van mense­handel.

“Ons sal meer klagtes van misbruik en uitbuiting sien. Maar wanneer ons dit moeiliker en gevaarliker maak vir mense om na vore te kom, sal daar nie klagtes wees nie.”

Bruggeman het gewaarsku inhegtenisnemings is traumaties en ­verminder die kanse dat slagoffers van mense­handel na vore sal kom om hulp te soek.

“As iemand na jou toe kom met 'n wapen en jou boei, sal jy nie sommer praat oor die uitbuiting en misbruik wat jy ervaar nie.”

Sy het bygevoeg dat, afgesien van veranderinge wat aan wette gemaak moet word, lande ook praktiese stappe moet neem, soos om wetstoepassers op te lei sodat misbruik en uitbuiting sensitief gehanteer kan word.

“Wetstoepassers sal die klagtes van misbruik en uitbuiting moet respekteer wat hulle van seks­werkers ontvang - iets wat tans nie oral gebeur nie.”

In Namibië het verskeie mense­regte- en burgerlike organisasies aanbeveel dat die beleid oor sekswerk in Namibië aangepas word.

Hulle het daarop gewys dat die diskriminasie en geweld wat sekswerkers ervaar, hulle ontmoedig om toegang tot gesondheidsorg en ­wetstoepassing te verkry.

'n Spesiale verslaggewer van die Verenigde Nasies (VN) wat in 2013 onderhoude met sekswerkers gedoen het, sê hulle word herhaaldelik deur die polisie misbruik.

Dit sluit in hoë vlakke van geweld soos verkragting, onnodige aanhouding en die konfiskering van kondome.

Moenie werker straf

Bruggeman het verduidelik Freedom Network bepleit die dekriminalisering van sekswerk sodat strawwe hiervoor uit die weg geruim kan word.

Volgens haar is verskillende modelle wêreldwyd geïmplementeer, wat die wettiging van sekswerk insluit. Die wettiging daarvan gaan met regulering gepaard.

“Ek dink nie nét een model is wêreldwyd van toepassing nie,” het sy gesê.

“Lande moet onder meer hul ­kulturele en wetlike raamwerke in ag neem.”

Bruggeman sê dis egter kritiek dat sekswerkers veilig en gemaklik genoeg voel om owerhede en diensverskaffers om hulp te nader.

Sy het bygevoeg om sekswerkers te straf, verhoog die risiko van mensehandel en ander vorms van misbruik en uitbuiting.

Sy het ook gesê wanneer 'n individu 'n misdaadrekord het, hul kanse op toekomsgeleenthede benadeel word.

“As 'n menseregteorganisasie glo ons in die uitbreiding van mense se keuses en hul vermoë om hul eie ­besluite te neem. As hulle dus by sekswerk betrokke wil raak, kan hulle dit veilig doen. As hulle ander werk wil doen, kan hulle dit ook veilig doen.”

Bruggeman sê hulle glo as hierdie doelwitte bereik kan word, sal mense­handel drasties verminder, hoewel dit nie heeltemal sal ophou nie.

“Ek verwag nie dat enige vorm van misdaad in die toekoms uitgeskakel kan word nie, maar wat ons wel kan doen, is om mense te beskerm sodat hulle minder geneig is om skade te ly en misbruik te word.”

Gesprek nodig

Mensehandel, wat arbeid of seksuele uitbuiting kan insluit, is 'n moderne vorm van slawerny. Dit behels die gebruik van geweld, bedrog, dwang en uitbuiting om dienste te verkry vir kommersiële of ander winste.

In Namibië het die Verslag oor mense­handel (Tip) wat in 2017 deur die Verenigde Nasie se kantoor uitgereik is om mensehandel te monitor en te bestry, gevalle van sekswerk en mensehandel in die land geïdentifiseer. Dit sluit die uitbuiting van vroue en kinders in die seksbedryf in.

Me. Martina Vandenberg, stigter en president van die Human Trafficking Centre in die VSA, het verduidelik daar is 'n toenemende neiging in die VSA dat kinders onder 18 nie tot ­sekswerk kan toestem nie.

“Die idee dat 'n kind dus van ­prostitusie aangekla kan word, is ­belaglik,” sê sy.

Vandenberg het beklemtoon om mensehandel in volwassenes te bewys, moet daar bewyse van geweld, bedrog of dwang wees.

“Maar in die geval van iemand onder 18 wat betrokke is by kommersiële of ander sekswerk, is hulle reeds slagoffers van mensehandel - selfs al kan bedrog, dwang of geweld nie bewys word nie.

“Terwyl federale wette voorsiening hiervoor maak, neem baie state op plaaslike vlak steeds nie die ouderdom van minderjariges in ag wanneer hulle die minderjariges in hegtenis neem en vir sekswerk vervolg nie,” het sy gesê.

Vandenberg sê die oplossing is dat lande beveiligende wette toepas, wat erken dat kinders nie vir sekswerk in hegtenis geneem of vervolg kan word nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer