Ontbossingstender dalk ondersoek
Ontbossingstender dalk ondersoek

Ontbossingstender dalk ondersoek

Die Teenkorrupsie Kommissie sê sy ondersoek sou binne die grense van ’n formele klag wees.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die direkteur van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC), mnr. Paulus Noa, het gesê ’n ondersoek word oorweeg na hoe ’n gesamentlike onderneming ’n tender gekry het.

Dié tender is vir die ontbossing en die ploeg van besproeiingsgrond op die plaas Katima en die Liselo-besproeiingsprojek in die Zambezistreek.

Volgens ’n formele klag wat by die ACC gelê is, is die tender aan MK Capital Investment en Okatombo Investment toegeken ten spyte daarvan dat nie een van dié twee maatskappye ’n klein of medium onderneming (SME) is nie.

Nie een van die maatskappye het ’n SME-sertifikaat saam met hul aansoeke ingedien nie, is beweer.

Ná Noa Maandag die tenderdokumente nagegaan het, het hy bevind daar was egter geen SME-vereiste nie. Die ACC moet dus besluit of ’n volle ondersoek nodig is of nie, omdat daar geen klagte van korrupsie is nie.

Mnre. Mathias Kamati en Leonard Iipumbu is onderskeidelik lede of aandeelhouers van MK Construction en Okatombo, en hulle het N$26,3 miljoen vir die werk getender.

Kamati het daarop aangedring dat MK Capital Investment en sy vennoot wel as SME's geregistreer is en dat al die nodige dokumente vir die tenderaansoek ingedien was. MK Capital is as ’n SME op die Federasie vir Konstruksiebedrywe (CIF) se webwerf gelys. Okatomba is nié hier gelys nie.

SUB-SUBKONTRAKTERING

Die wyse waarop die tender na ander subkontrakteurs oorgedra is, het egter wenkbroue laat lig.

Die tender is middel verlede jaar geadverteer. Die Tender Bulletin het toe gesê slegs 14 van die 47 aansoekers is bouers of swaartoerustingkontrakteurs, en dat die enigste Chinese kontrakteur nie aan belastingvereistes voldoen het nie.

Die Tender Bulletin het voorts gesê dat slegs maatskappye waarvan 51% deur Namibiërs besit word en waarvan 30% uit voorheen benadeelde groepe is, in aanmerking sou kom.

Die tenderkennisgewing het verder bepaal dat voorkeur gegee sou word aan tenderaars wat markverwante pryse aanbied. Dié aanbiedings het gewissel van N$4,8 miljoen tot ’n yslike N$441,7 miljoen.

Die werk behels hoofsaaklik ontbossing, ploegwerk en meganiese gelykmaking van besproeiingsvelde.

Mnre. Mathias Kamati en Leonard Iipumbu is onderskeidelik lede of aandeelhouers van MK Capital en Okatombo, en hulle het N$26,3 miljoen vir die werk getender.

Die gesamentlike onderneming het daarop gedui dat KK Target Trading, ’n geregistreerde SME, ’n subkontrakteur vir die projek sou wees.

’n Paar maande ná die tendertoekenning in Oktober, het Uundenge Investments CC, wat aan Laban Kandume behoort, se naam óók as subkontrakteur van die projek opgeduik.

Uundenge Investments het nie vir die tender aansoek gedoen nie, maar het in Januarie as die “hoofkontrakteur” verskyn in ’n “boomverkoop-ooreenkoms” met die Chinese maatskappy New Force Logistcs CC vir die ontbossing van die plaas Katima en die Liselo-besproeiingskema.

Dié maatskappy behoort gedeeltelik aan die beweerde wild- en houtsmokkelaar, Hou Xue Cheng.

’n Kenner in die regering se tenderprosedures, wat anonimiteit verkies, meen hierdie soort “sub-subkontraktering” is twyfelagtig en hoogs onreëlmatig. Die kenner meen dit klink “baie verdag” dat Uundenge skielik as “hoofkontrakteur” voorgestel word.

Die kenner het voorgestel die ACC moet die tender self, die kontrak wat met die landbouministerie aangegaan is, asook die “vreemde ooreenkoms” tussen Uundenge en New Force Logistics ondersoek.

Kamati, van MK Capital, sê slegs ’n gedeelte van die totale omvang van die tenderwerk is aan Uundenge gesubkontrakteer.

"Slegs die verwydering van bome is aan Uundenge gesubkontrakteer," het Kamati gesê.

Noa het gesê die feit dat Uundenge homself as hoofkontrakteur voordoen, en wie die subkontrakteur of sub-subkontrakteur van die werk is, is nie onderworpe aan ’n ACC-ondersoek nie, omdat geen formele klagtes in hierdie verband gelê is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!