• Tuisblad
  • Sake
  • Ontdek die wêreld met Land Rover . . . se selfoon
Ontdek die wu00eareld met Land Rover . . . se selfoon
Ontdek die wu00eareld met Land Rover . . . se selfoon

Ontdek die wêreld met Land Rover . . . se selfoon

Marnus Hattingh – Net soos wat die selfoon lankal nie meer net vir oproepe maak gebruik word nie, het motorvervaardigers ook ’n ekstra rat in die leefstylwêreld gevind.

Porsche maak fietse en handsakke, terwyl Mercedes-AMG sy naam al aan enigiets van reënbaadjies tot super-seiljagte gekoppel het.

Land Rover het in hierdie opsig self die klingel hoor lui. Die groep het pas sy nuwe Land Rover Explore bekend gestel, ’n bonkige selfoon wat soos ’n halwe baksteen (in grootte en gewig) in jou handpalm rus.

Daardie swaarheid in jou hand kan weliswaar enigiets na jou brein terugsein: van gerusstellend en duursaam tot ’n lastigheid as jy nog laataand teen ’n koppie moet uitstap en hy hang soos ’n klip in jou broeksak.

Land Rover sê hy het sy Explore ontwerp nadat hy aan verskeie avonturiers gevra het wat hulle presies als in ’n selfoon sou soek. Want sien, die moderne rotsklimmer en Amasone-ontdekker het meer as net ’n Samsung of Apple nodig. Daar moet gebel word, vanaf enige plek in die wêreld, en foto’s geneem word, natuurlik ook. Maar verder wil jy ook ’n GPS-toestel hê. En tesame moet als duursaam en gehard wees. Gereed om saam met jou deur sneeu en rivierwaters te beur, sonder om die gees te gee of ’n pap battery ná ’n dag se gebruik op te lewer.

Moeilike vereistes, dus. En waarom avonturiers tot op hede eerder spesialis-elektronika vir elke aspek verkies.

Die Explore hark so te sê al hierdie vereistes nader. Die hulsel is met rubber behandel en jy kan hom maar op die teëlvloer, ’skuus, rotse laat val, hy sal nie breek nie. Die skerm is ook met ’n ekstra plastieklagie bedek om dit beter te beskerm. Daarby kan jy ook die skerm met ’n handskoenvinger bewerk.

Nog bewyse van die foon se gehardheid is dat hy 1,5 m diep onder die rivierwater steeds gebruik kan word. En by temperature benede vriespunt.

Dus, hy is ’n hardebaard. Maar is hy nuttig?

Eerstens is daar die groot geheue van 64 GB, wat heelwat kaarte kan oplaai. Ek hou ook van die SD-kaartgleuf, wat beteken jy kan jou kaarte op SD’s laai en wissel in jou foon, soos wat jy om die aardbol toer.

Dan het Land Rover ook ’n nuttige kaart-app op die foon gelaai (View Ranger, in Landie-taal) wat kontoere aandui. Altyd ’n wenner, as jy moet stap of trap.

En dan is daar die Faf de Klerk in die span: die aspek wat jou laat wonder of dit ’n meesterslag of ’n lus om die nek is. Die foon kom met ’n ekstra battery wat met ’n magneet agteraan die foon se rug vasknip.

Dié battery is dik en swaar, en verander die foon in ’n baksteen. Die ekstra gebruikstyd wat dit bied (hoe gaaf ook al) word na my mening geneutraliseer met sy gewig en bonkigheid.

Sal ons dus een aanskaf? Teen R13 500 is dit g’n goedkoop speelding nie. Jy kan jou eie slimfoon en los battery saamdra, plus ’n GPS-toestel en dieselfde funksionaliteit kry. Jy het dan wel vier ekstra artikels. En dit sal straks nie in die sneeu oorleef nie.

As jy ’n maand in ’n klooster in die Himalaja-berge wil gaan vertoef, of die Amasone wil verken, is die Explore straks ’n tweede kyk werd. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer