Onteiening kan die groei uit landbou haal
Riana de Lange - Suid-Afrika se landbousektor het 2017 afgesluit met die wind in sy seile, onder meer met ’n rekord-mielieoes van meer as 16 miljoen ton, maar die gesprek oor grondonteiening kan die pad vorentoe moeiliker maak.
Syfers van Statistieke Suid-Afrika die afgelope week wys landbou-aktiwiteit het in die vierde kwartaal van 2017 op ’n kwartaalgrondslag met 37,5% gegroei, en 0,8 persentasiepunt tot groei van 3,1% bygedra. In die derde kwartaal het landbou met 44,2% op ’n kwartaalgrondslag gegroei, en 0,9 persentasiepunt tot groei van 2,3% bygedra.
Dié sektor het in die derde en vierde kwartale van die jaar die grootste bydrae gelewer tot ’n beter as verwagte groeikoers.
Landbouvertroue het egter in die vierde kwartaal begin afneem nadat die ANC-konferensie ’n resolusie aanvaar het om grond sonder vergoeding te onteien.
Dié afname het deels te doen met finansiële instellings se blootstelling van R160 miljard aan landbouskuld en onsekerheid oor eiendomsreg, het Wandile Sihlobo, ’n ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, op ’n inligtingsdag in Centurion gesê.
Richard Downing, ’n ekonoom van Econdow, sê hoewel primêre landbou se bydrae tot die BBP op sowat 2,5% staan, moet die breër bydrae van kleiner boerderye tot landelike gebiede en dorpe nie onderskat word nie.
Downing sê 2017 was ’n goeie produksiejaar vir Suid-Afrikaanse landbou danksy gunstige natuur- en klimaatstoestande ná ’n uitgerekte droogte, maar in 2018 gaan dit moeilik gehandhaaf word.
Een van die redes is die onsekerheid wat geskep is met die parlement se mosie dat ’n ondersoek gedoen word om die Grondwet te verander om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.
“Die onsekerheid oor eiendomsreg is gevaarlik vir beleggers- en sakevertroue. Beleggers wil sekerheid hê oor wat in die volgende tien tot 15 jaar gaan gebeur. Ons het nou nuwe leiers, en goeie goed het sedert Cyril Ramaphosa se verkiesing met staatsfinansies gebeur, maar iets soos die onteieningsdebat kan die optimisme by die agterdeur uitjaag,” sê hy.
Die groei van 3,1% in die vierde kwartaal (geannualiseerd) is beter as die markverwagting van 1,8%, en het die hoop laat opvlam dat die ekonomie vanjaar met tot 2,5% gaan groei.
Nhlanhla Nene, minister van finansies, het die afgelope week ook aangedui die verwagte groeisyfer vir die jaar kan tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober opwaarts aangepas word, berig Bloomberg.
Verskeie ekonome sê die kans lyk ook groter dat die Reserwebank op 28 Maart rentekoerse kan verlaag.
Volgens Nedbank se ekonomiese eenheid is ekonomiese aktiwiteit – ondanks die beter groeisyfers – steeds nie op ’n vlak wat inflasie sal aanblaas nie.
“Die swak wisselkoers was die laaste paar jaar die grootste risiko vir inflasie, maar dit is nie tot dusver vanjaar die geval nie. As die rand sy huidige vlakke handhaaf, is ’n rentekoersverlaging van
0,25 persentasiepunt in Maart moontlik, waarna koerse tot September 2019 stabiel kan bly.”
Maarten Ackerman, ekonoom van Citadel, sê die herstel in sake- en verbruikersvertroue, saam met ’n positiewe verandering in politieke leierskap, behoort die beter groeimomentum vanjaar te laat voortduur.
Hoewel hy meen verbruikers kan verras word met ’n rentekoersverlaging later die maand, kan die BBP-data waarskynlik die monetêre beleidskomitee noop om die koers onveranderd te hou. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie