Ontevrede inwoners gryp weer grond
Ontevrede inwoners gryp weer grond

Ontevrede inwoners gryp weer grond

Maria Eiseb
Maria Eiseb - Die stadspolisie het gister ’n stokkie voor inwoners van die Tobias Hainyeko-nedersetting in Windhoek gesteek wat grond wou opeis.
Meer as 100 inwoners het tussen 09:00 en 10:00 saamgetrek om grond te begin skoonmaak sodat hulle wonings daar kan oprig, het die woordvoerder van die stadspolisie, konstabel Fabian Amukwelele, gesê. ’n Gemeenskapslid het die bedrywighede onder die stadspolisie se aandag gebring.
“Dit is onwettig om grond te gryp. As jy daaraan skuldig bevind word, kan jy ’n boete van N$1 000 kry,” het Amukwelele gesê.
Nadat die polisie dié boodskap aan die inwoners oorgedra het, het hulle hul bedrywighede gestaak en tevergeefs op hul raadslid gewag. Die polisie het die groep op ’n afstand dopgehou.
“As jy aansoek doen om grond, word jy gesê daar is nie grond nie. Maar die hele plek is oop. Ons het besluit om vir onsself plekke skoon te maak, want ons het lank gewag. Ons is jare in die land, maar het nie blyplek nie,” het mnr. Bernard Gariseb gesê.
“Ons land is vol van die mense van die buiteland en ons wil grond hê. Daar is nie eens plek waar ons kan slaap nie,” het een van die ander groeplede gesê.
“Ons wil terugvoering hê oor die aansoeke wat ons gedoen het. Harambee moet híér begin.”
“Vir hoe lank moet ons so sukkel?” wou me. Paula Daniël weet. Die groep het die grondkwessie met hul raadslid bespreek, maar hul vrae bly onbeantwoord, het sy gesê.
Volgens die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, moet mense die regte prosedure volg om grond te kry. Hulle kan dit nie net beset nie, het hy gesê.
“Ons doen ons bes om planne te beraam, maar die nedersettings is baie groot en ons sal nie alles in een dag regkry nie,” sê Kazapua.
Daar is baie wat in ag geneem moet word, sê hy. ’n Projek is reeds in die Goreangab-woonbuurt van stapel gestuur om basiese dienste aan mense te voorsien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!