Onthou jy nog?
MARIE WAGGIE SKRYF:
Nie lank gelede nie het ek my sewentigste verjaardag gevier. Die meeste genooides was my familie.
Ek is nie regtig 'n persoon wat hou van 'n klompie toesprake nie, maar die keer het dit my tog lank bygebly. In plaas van die ekstra jare toewens het almal wat opgestaan het om ietsie te sê, net gepraat van “ek onthou nog”.
My suster se oudste seun, ook my peetseun, was die eerste een om my terug te vat na die goeie herinneringe. Ja, ek het destyds in Begoniastraat in Khomasdal gewoon.
“Ons tannie was die welaf een en by wie ons kon uitsien om vakansies te gaan kuier. Hier het ons die heerlikste biryani geëet, eintlik die beste wat ek ooit kon onthou het – dan was dit nog die roetie en kerrie.
“Soggens as ons opgestaan het, was daar heerlike, toegedraaide bruinpapier. Daarbinne was vars aartappelskyfies, weense worsies, frikkadelle, alles in een.
“Dan het ons by die Star-winkel ook die heerlikste vars brood gaan koop. Die snye was 'n bietjie groter as normale brood.
“So het ons dan gelykertyd al die koerante gekoop. Die Beeld, Observer en die Republikein.
“Ons het by hierdie tannie se huis van alle tipes musiek geleer. Stevie Wonder se I just called to say I love you, Elvis Presley se Blue Moon, John Lennon, Elton John – rock en jazz se klanke het altyd die huis gevul.”
Daarna het een van my niggies vertel hoe sy onthou dat ek die een was wat hulle altyd opgetooi het in die mooiste kledingstukke. Hoe die hare en gesig opgeknap moet word en 'n bypassende skoen vir hul afspraak met 'n kêrel. So het hulle my eie gedagtes teruggeroep na my dae van “onthou jy nog”.
Ek onthou die “bobbysocks” wat ek so lief was om vir my babasuster te koop toe sy nog 'n jong meisietjie was. Sy is nou ook al in haar sestigerjare.
Ek onthou my kinders daai jare wat ons in Katima Mulilo gewoon het. Oral was net die groenigheid en hulle was altyd in swemklere geklee. Dit is vir my die mooi en goeie jare wat vir ewig in my hart vasgebrand is.
Ons het langs die rivier ons dae omgebring. Ja, daai tyd moes ons ook hardloop en gaan wegkruip wanneer ons die geweerskote hoor. Ek het baie foto's van daardie tyd. Daar het ons “Masusa” gegroet met so 'n buig in die knie.
Ek onthou my mense van die Strand daar in die Wes-Kaap. Soms beplan ek so baie kere om bietjie weer daar te gaan kuier en verbeel hoe dit nou verander het – maar dit was die plek met die mooiste strande, waar jy net wit sand al langs die strand gesien het. Dit was ook die veiligste strande. Daar het ons “Salam Alaikoem” mekaar gegroet.
Tate Benyamin was ons gasheer toe ons eenmaal vir 'n begrafnis na Ovamboland toe gegaan het. Na alles het hy ons uitgenooi na sy kraal. Daar het hy ons regdeur gevat na waar sy vrou en twee dogters besig was om mahangu te stamp. Hulle het onmiddellik hul werk gestaak en vinnig na die huis gegaan en vir die ouman sy stoel uitgebring – ook vir ons.
Wat my vir altyd sal bybly, is hoe die kinders sorg dat hul pa gemaklik in die stoel kom, en die vroutjie gehurk voor haar man kom sit en sy skoene vir hom uittrek en vir hom 'n paar pantoffels aantrek. Die eer en respek wat daaruit gevloei het kon ek nie anders as om te bewonder nie.
Een van die dae is dit weer Paasfees.
Ons ouerhuis was langs die ou begraafplaas. Opstandingsondag was ons van vyfuur in die oggend al wakker – dan het al die verskillende kerke se klokke gelui. Die Rynse Sending, Katolieke en die Metodiste Kerk. Ons het die lui van klok geken en geweet aan watter kerk dit behoort. Kan u dit glo?
Mamma en Pappa was al lankal weg na die begraafplaas. As ons buite kom, dan het net liggies gebrand soos die mense almal daar bymekaargekom het, elk met 'n brandende kersie. Ek weet nie hoeveel kerke hou dit nog op daardie manier nie.
'n Mens moet net die tyd uitkoop en by mekaar gaan kuier. Op baie plekke bly daar familie of baie goeie, ou vriende. Ek ken van hulle in die Strand, die Moslems, en weet nie of ek weer 'n Capriviaan sal raakloop nie, want daai was 'n tydjie terug, maar verder ken ek ook Ovambo's en Herero's en Tswanas. Dink net hoe lekker so 'n bymekaarkom sal wees, om net oor die vergange dae te praat. Oor sekere dinge sal ons lag, dalk 'n traantjie wegvee. Ander dinge sal ons opgewonde maak.
Ons kan maar net toer deur die verlede en die diep, goeie herinneringe herleef.
Onthou jy nog die herinneringe aan vervloë dae?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie