Onthutsende debuut verras
Onthutsende debuut verras

Onthutsende debuut verras

Minette Brink
Francois Bekker - Niemand wil ’n klikbek genoem word nie.

Sekere dinge in die lewe moet egter uitgebasuin word, vroeër eerder as later.

Sersant Sollie Mthembu by die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein is ongedurig. Hy wil van ’n vervelige roetine wat administratiewe takies behels, ontsnap en sy eerste saak as volbloed speurder hanteer.

Die megaboer Tillman Wagenaar verdwyn. Nie net is Wagenaar ’n vriend van die polisiekommissaris nie, maar die polisie in Bloemfontein benodig dringend ’n suksesstorie.

Ná deeglike oorweging gee kapt. Maartin Brummels die dossier aan Sollie. Die dorpie waarheen Sollie hom moet haas, is immers net “ ’n kolletjie op die kaart” en Brummels vermoed dit is dalk net huismoles wat gou iets van die verlede sal wees.

Sollie se ondersoek na die omstandighede waarin ’n vooraanstaande boer verdwyn het, word ’n kitskursus in motief, oorsaak en gevolg onderlê deur jaloesie en wraak as twee moorde die saak verder kompliseer. Die spil waarom die drama draai, is die spogplaas Onverwacht wat “ ’n laslapkombers van ander mense se ongeluk en mislukking” is.

Ek wil my verstout om te sê dat Bloemfontein en die Vrystaat as literêre ruimte nogal afgeskeep word in ons kontemporêre letterkunde. Sidney Gilroy se Klikbek is ’n welkome korrektief.

Wanneer Sollie die pad vat na die fiktiewe dorp Rhynveld toe, ontvou ’n tipiese Vrystaatse landskap voor hom – die pad lê reguit voor hom uitgestrek met ’n wye niks op die horison. So onopgesmuk egter as wat die omgewing blyk te wees, so kompleks is die mense en interpersoonlike verhoudings waarmee hy gekonfronteer word.

Met sy getemperde register en woorde wat voel soos ’n vars bries op ’n soel somersdag is Klikbek ’n teks wat sy leser van begin tot einde boei. Voeg hierby verrassende kinkels soos die raaisel oor die ontvoering en die moorde verdiep. Met ’n sterk storielyn en knap karakterontwikkeling is dit ’n verhaal, om by PG du Plessis te leen, met “narrative pull”.

As karakter word Sollie Mthembu ’n prisma waardeur die leser kan sien hoe konvensies en sosiale kodes wat tot die verlede behoort, springlewendig is daar waar die kollig nie is nie. Sollie se lewensreis van Matatiele in die Oos-Kaap tot by die Parkweg-polisiekantoor is aangrypend. Die letsel aan sy gesig is ’n fisieke herinnering aan die geestelike pyn wat die verlede aan so baie mense in ons land besorg het.

Klikbek is ’n onthutsende debuut waarin die psigiese letsels van die karakters pynlik en genadeloos blootgelê word. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee.

*Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!