‘Ontluikende pluimveesektor nie beskerm’
Rolspelers het onlangs gedebatteeer oor hoe ‘n balans tussen die invoer van hoenderprdukte en plaaslike produksie verkry moet word.
Elvira Hattingh - Verskeie belangegroepe in die plaaslike pluimveesektor is dit eens dat alhoewel beskerming teen hoenderprodukinvoere vir die plaaslike bedryf amptelik afgekondig is, dit nooit toegepas is nie.
Dit, sê hulle, gee aanleiding daartoe dat beleggers nie die nodige sekerheid het oor of enige beleggings in Namibië se ontluikende pluimveesektor veilig sal wees nie.
Die opmerkings is Vrydag 13 September tydens ‘n openbare konsultasiesessie tussen verskeie rolspelers van die plaaslike pluimveesektor gemaak. Die geleentheid is deur die Namibië Handelsforum (NTF) byeen geroep en die doel daarvan was onder meer om die toepaslikheid van die huidige statutêre beskerming van die bedryf te hersien.
Mnr. Anton Faul, ‘n senior adviseur by die Namibiese Landbouhandelsforum (ATF) het tydens die geleentheid gesê beskerming vir die bedryf is nooit geïmplementeer nie, iets wat deur mnr. Frikkie van der Merwe beaam is. Hy het gesê beskermingsmaatreëls vir die plaaslike pluimveebedryf is wel in die Staatskoerant afgekondig, maar is nooit toegepas is nie.
Faul sê sekerheid oor die toekoms van die bedryf is die belangrikste faktor vir elke rolspeler.
“Die proses om ‘n grootskaal- kommersiële bedryf op die been te bring, het reeds in die 1990’s begin. Die regering kon egter sedert 2001 nog nie die nodige sekerheid aan die bedryf gegee nie.”
Die reaksie kom nadat die Namibiese Mededingingskommissie (NCC) se me. Bridget Dundee gesê het hulle is bekommerd daaroor dat so min nuwe spelers tot die bedryf toetree.
“Die bedryf geniet reeds vir agt jaar lank beskerming, maar waarom is toetrede so stadig en is daar steeds net een prominente speler?”
Sy het gesê beskerming vir ‘n ontluikende bedryf nie net ter wille van een speler volgehou moet word nie en dat hulle graag sal wil weet watter hindernisse nuwe toetredes keer.
“Ná die volgende ronde van beskerming, sal ons graag wil sien dat daar meer spelers betrokke is in die bedryf,” het Dundee gesê.
BESKERMING VÓÓR BELEGGING
‘n Verteenwoordiger van plaaslike Woermann Brock-supermarkte, mnr. Alexander Woermann, het die punt beaam. Hy het gesê as ‘n verbruiker vind hy dat plaaslike hoenderprodukte uitsonderlik duur is.
“As ‘n sakeman beskou ek dit egter as ‘n geleentheid om ‘n pluimveeprodusent te raak. Om dit egter op kompeterende wyse te doen, moet ek seker daarvan wees dat as ek honderdmiljoene Namibiese dollar belê, ek vir ‘n lank genoeg tyd beskerm sal wees. Dit sodat ek my belegging kan verhaal.
“Een van die oplossings wat ek dink mededingendgheid binne die Namibiese pluimveebedryf sal kan verbeter, is as die regering deur middel van ‘n beleid die sekerheid kan bied dat die beskerming wat die bedryf geniet, vir ‘n langer tydperk sal geld.
“So kan ek met vertroue my belegging in die bedryf maak,” het Woermann gesê.
Hy sê beskerming is ook belangrik vir kleinskaalprodusente. “Hulle trek nie voordeel uit ekonomieë van skaal nie en ek glo hulle het nie veel van ‘n toekoms as beskermingsmeganismes weggeneem word nie,” het hy gesê.
INVOERE: BEDREIGING OF BATE?
‘n Ontluikende pluimveeboer van Otjiwarongo het gesê sy grootste probleem is toegang tot markte, wat vererger word deur dat die mark versadig word met invoere van buitelandse hoenderprodukte.
“Ek het tans gevriesde hoender wat ek nie kan verkoop nie. Invoere is die ding wat my besigheid die kwaaiste raak.
“Ons laat te veel ingevoerde hoender toe. Ek sê nie ons moet dit verban nie, maar verminder tot op ‘n punt.” Hy sê dit sal help dat daar nie net een prominente speler in die pluimveebedryf is nie, maar talle ander.
“Ek dink ons hét die kapasiteit. Ek het geen twyfel daarin dat ons sal kan bewys ons kan Namibië voer as die regering ons net twee tot drie jaar kans gee nie.
“Ek rig ‘n versoek: Laat ons toe om te groei,” het hy gesê.
‘n Lid van die Vereniging van Vleisinvoerders en Namibiese Invoerders (Amie), mnr. Jared Kaiser, het rolspelers egter daaraan herinner voor daar plaaslike pluimveeprodusente was, het verskeie maatskappye dié sektor gebou.
“Baie van hierdie maatskappye het verskeie werksgeleenthede geskep en baie geld belê. Jy kan nie 500 bestaande werksgeleenthede uitwis om ander 500 geleenthede te skep nie,” het hy gesê.
“Almal dink ons invoerders maak baie geld, maar dit is nie die geval nie. Invoerbelasting van 33% geld op pluimveeprodukte vanaf Europa. Dit lig die pryse van ingevoerde hoender tot na aan pryse wat in Suid-Afrika daarvoor betaal word. Ons verdien ‘n winsmarge van sowat 11%,” het hy gesê.
Hy het ook gesê die meeste ingevoerde hoender in Namibië kom van die Europese Unie of Suid-Afrika en nie van Brasilië af nie.
Hy stem saam hoenderstorting is tans ‘n enorme probleem, veral wat betref hoender wat oor die grens vanaf Angola na Namibië ingebring word. “Ons het dit reeds aan owerhede gerapporteer, maar niks is daaraan gedoen nie.”
Kaiser sê dit is veral ‘n probleem omdat die grootste deel van die Namibiese bevolking naby noordelike grense leef en dié gestorte hoender vir minder as R20 per kg in Namibië verkoop word. Hy het ook gesê die regering moet daad by die woord voeg en kos van plaaslike bronne vir openbare instellings aankoop.
Amie se mnr. Fanie du Plessis sê dit is belangrik om te onthou dat plaaslike verbruikers ‘n keuse het.
“Verbruikers kyk na die tipe snitte, prys en gehalte. Ons moet die persepsie bevraagteken dat ons, wanneer hoender slegs plaaslik geproduseer word en daar geen invoere is nie, meer plaaslike produkte gaan verkoop.
“Dit werk nie so nie. As hoender steeds te duur is, sal mense eerder dan beesvleis of vis koop.
“Teen die einde van die dag moet ons kyk na wat verbruikers soek, as ons enige verkope wil hê. As die gehalte van plaaslike produkte nie goed genoeg is nie en hulle dit nie kan bekostig nie, sal hulle dit nie koop nie.
“Besighede word rondom markte gebou en wys jou wat jy moet verkoop en teen watter prys. Ek wil hê mense moet besef hoe sterk die verbruiker is om enige bedryf suksesvol te maak en dit te groei.
“Die verbruiker het die laaste sê,” het Du Plessis gesê.
Op stellings dat plaaslike produsente in elk geval ‘n groot aantal voer vir plaaslik geproduseerde hoenders invoer, het Feedmaster se algemene bestuurder, mnr. Jaco Labuschagne, gesê dat 75% van hul braaikuikenvoer plaaslik geproduseer word.
VERSTERK SACU-BANDE
Intussen het Suid-Afrikaanse rolspelers tydens die geleentheid Namibië daarop gewys dat hulle nie die vyand is nie.
Mnr. Izaak Breitenbach van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) sê die “vyand” is Brasilië, wat 14,3 miljoen hoenders per dag produseer, asook China wat 33 miljoen hoenders per dag produseer en met die veel kleiner Namibiese bedryf meeding.
“Vanaf ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt stem ons saam dat jul bedryf beskerm moet word. Ons stem egter nie met die huidige handelsmaatreëls saam nie. Ons glo ander handelsmaatreëls kan ingestel word om die gewenste groei van jul bedryf te bewerkstellig.
“As ons kyk na Afrika se vryehandelsooreenkoms: Die doel hiervan is dat ons as Afrika-nasies voorkeur geniet om mekaar van produkte te voorsien en nie voorkeur aan Brasilië, Amerika of Europa te gee nie.
“My voorstel is dat ons die SACU (Suider-Afrikaanse Doeane-unie)-ooreenkoms laat herleef en regulasies afdwing wat verband hou met lande van oorsprong. Handelsmaatreëls is baie belangrik in beide lande om die pluimveebedrywe te beskerm.”
Breitenbach sê Brasilië verkoop hoender in Suid-Afrika teen R10,00 minder as hul produksieprys. “Hulle doen dieselfde in Namibië en ons kan dit nie bekostig nie.
“Ek vra dus jul steun in die aansoek wat ons doen om ’n verhoging van invoertariewe op sekere hoendervleis. Ons het reeds storting deur Brasilië bevestig en ons probeer ‘n teenstortingstarief teen Brasilië instel.
Die ATF se Faul het hierop reageer: “Ons steun julle in wat julle vandag gesê het, maar het ‘n groot probleem.
“In Suid-Afrika veg julle teen praktyke wat deur die die Europese Unie, China, Brasilië en Amerika by julle toegepas word. Wanneer julle egter terugkom na die Suider-Afrikaanse konteks, word julle óns China, Brasilië en Amerika.
“Ek bedoel dit nie as kritiek nie. Ons is familie en al vir meer as ‘n eeu lank deel van SACU. Familie sorteer hul eie kwessies uit.
“Ek dink ons het groot ruimte vir samewerking, maar daar moet erkenning gegee word aan die feit dat ons ook belangrik is en dieselfde doelwitte het.”
Faul sê hy is bewus daarvan dat deel van Sapa se strategiese toekomsplanne is om hul vermoë te verbeter om produkte te kan uitvoer en terselfdertyd invoere in te perk.
“Is dit nie maar dieselfde as wat ons vanuit ‘n Namibiese konteks probeer doen nie? Julle kan nie dit vir julself regverdig en dit bevraagteken as ons dit probeer doen nie.
“Ons kan jul strategiese planne net so oorneem en dan gaan ons nog steeds met ‘n probleem sit, want dan kompeteer ons met mekaar. Dit is waarop soortgelyke doelwitte neerkom. Hoe hanteer ‘n mens dit? Ons werk saam.
“Dit is die verantwoordelikheid van twee lande se ministeries om toe te sien dat ons samewerking met SACU-lande verbeter,” het hy gesê en aan verteenwoordigers van die ministerie van nyherheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling gevra: “In watter mate is dié streekselement in jul beleid vir aankope oorweeg? Dit is goed dat ons besluit om sekere produkte plaaslik te koop, maar daarna moet onmiddellike handelsvennote in die SACU-streek in die prentjie kom.
“Ek sou sê dat ons kriteria vir aankope moet opstel dat ons eerste probeer om produkte plaaslik te kry, dan in die wyer SACU-streek, dan in SADC en dan elders.
“Ek dink ons moet praat,” het Faul gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie