Ontmoet Gibeon se Oom Niklaas

Tanja Bause
Tanja Bause



Niklaas Dawson, 'n inwoner van Gibeon, het geen bekend­stelling op die dorp nodig nie.

Sy pa, Cornelius, was 'n bekende menseregte-aktivis en het gereeld bydraes op die nasionale radiostasie se Sê jou sê-program gelewer.

Cornelius het ook Jan Jonkerweg in Windhoek op 60-jarige ouderdom met 'n padskraper deur die berge oopgesny.

“Niemand wou op die ­padskraper klim nie, omdat dit baie skuins was, maar my pa het opgeklim en die pad gesny. Dit is maar een van baie paaie wat hy gesny het,” het Niklaas gesê.

Hy vertel sy pa het saans dikwels sonder 'n sent huis toe gekom.

“My pa se hande was oop vir almal. Hy het baie vir die mense in die gemeenskap omgegee. Hy het dikwels sonder geld by die huis gekom, omdat hy al weer vir 'n weduwee gaan kos koop het, of 'n oumens uitgehelp het.”

Niklaas is op Kakamas in Suid-Afrika gebore en het in 1979 na Namibië getrek om as kondukteur by die destydse Suid-Afrikaanse spoorweë te begin werk. Hy het ook vir die polisie op ­Rehoboth gewerk en was lid van die weermag se intelligensiediens wat in die Suiderhof-basis in Windhoek gestasioneer was.

Niklaas het sy pa se naasteliefde en belangstelling in die gemeen­skap geërf en is self 'n bekende aktivis op Gibeon.

“As ek sien iemand word benadeel of verkeerd behandel, kan ek nie stilbly nie. Ek is op sosiale media baie betrokke en veg vir gelykheid en geregtigheid vir die mense van Gibeon.” Deesdae bly hy besig met houtsneewerk en met die maak van blompotte uit sement. Ek het op die internet gaan navorsing doen en myself geleer hoe om met hout te werk.”

Hy het in 2016 van sy handgemaakte produkte op die Kersmark op Swakopmund vertoon en verkoop. “My produkte is swaar en die vervoer van Gibeon af was moeilik, so ek het baie daarvan sommer op Swakopmund gemaak – sommige kort voor die mark begin het en ander terwyl die mark aan die gang was. Alles het baie goed verkoop.”

Niklaas sê sy strandboks uit hout was baie gewild onder besoekers.

“Dit lyk soos 'n boks waarin jy jou glase, bottels, blikkies en kos kan sit sodat dit nie op die strand staan of lê nie.”

Sy vrou, Linda Dawson, is self baie kunstig en maak doilies wat met kleurvolle krale versier is.

Sy het van haar produkte ook op die mark verkoop en met 'n vrou kontak gemaak wat sedertdien twee tot drie keer 'n maand van die doilies by haar bestel en koop.

“My ma is baie kunstig en ek hekel van kleins af. Ek het sowat drie jaar gelede vir myself begin die doilies maak. Ek het gedink ek moet probeer om dit by die mark te verkoop. Nooit het ek gedink ek sou elke maand 'n vaste bestelling kry nie,” het sy gesê.

“Kyk wat om jou aangaan en probeer kreatief dink. Vergeet van mooi woorde en beloftes wat aan jou gemaak word, en sit hand aan die byl en doen goed self. Daar is altyd iets wat jy kan doen. Jy moet net kyk, opstaan en doen,” het Niklaas afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!