Ontmoet skrywer Johan Beyers
Ontmoet skrywer Johan Beyers

Ontmoet skrywer Johan Beyers

Die afgetrede weerman se twee jongste boeke sal môre by ’n boekwinkel bespreek word.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Kom ontmoet die skrywer Johan Beyers môre om 10:00 by Book Buddy in die hoofstad om sy twee jongste boeke, Die Keiser se Goud en Bosbrand en Ander Verhale, te bespreek.

Johan Jacob Beyers is op 27 Junie 1953 op Krugersdorp in die destydse Transvaal, Suid-Afrika, gebore. Hy het op ’n kleinhoewe naby Roodepoort grootgeword en was in die Laerskool Dr. Havenga in Witpoortjie op skool. In 1970 matrikuleer hy aan die Hoërskool Florida as ’n doodgemiddelde leerling. In 1971 het hy sy nasionale diensplig by die staatspresidentswag in Pretoria gedoen.

Ná ’n byna tragiese motorfietsongeluk begin hy om aardrykskunde en geologie aan die Universiteit van Potchefstroom te studeer. Hy sluit later by die Suid-Afrikaanse weerburo aan en studeer ook weerkunde aan die destydse Pretoria Technikon.

In 1976 trou Johan en vra daarna vir ’n oorplasing na Keetmanshoop. Hy werk tot 1999 by die weerburo waarná hy ’n kleinhandelbesigheid bestuur en daarna op die wildplaas Harnas in die Omahekestreek werk.

Johan erken ruiterlik dat om opstelle te skryf nie van een van sy sterk punte op skool was nie. Een van sy standerd 3-opstelle is, om die waarheid te sê, in die klas voorgelees as voorbeeld van hoe om nié ’n opstel te skryf nie.

Dit was gedurende sy jare by die Namibiese weerburo as tegniese hoof dat die ongerepte en afgeleë platteland hom bekoor en aangespoor het om kortverhale te skryf oor die plekke wat hy gesien en besoek het. ’n Gekeurde versameling van hierdie verhale is in die bundel Bosbrand en Ander Verhale.

Sy eerste vollengte boek, The Kupferberg Mining Company, is in 2013 deur Wordweaver Publishing House gepubliseer.

Dit vertel die verhaal van ’n geheime samelewing wat ’n idilliese bestaan iewers in Namibië met hul eie wette en lewenswyses lei.

Sy tweede boek, Die Keiser se Goud, speel in die prekoloniale en hedendaagse Namibië af en verduidelik metafories hoe die verlede die hede en selfs die toekoms kan beïnvloed.

Volgens Johan ontstaan sy kortverhale spontaan en is hulle gedeeltelik gegrond op gebeure uit sy eie lewe, nuusberigte, staaltjies en selfs drome. 'n Engel by die Rooisee, wat in die tydskrif rooi rose verskyn het, speel in Israel af waar hy opleiding ontvang het. Sy helde en heldinne is nie tipies nie, ver van voorbeeldig, en meeste van sy verhale het ’n kinkel.

Hy bewonder Chris Barnard en Andre P. Brink se verteltrant, en Raymond Chandler en Roald Dahl se skryfstyle.

Hy en sy vrou, Louise, is al 43 jaar gelukkig getroud en is die ouers van ’n seun, twee dogters, en grootouers van vier kleinseuns. Johan is afgetree, lees en skryf graag, en maak houtmeubels en -kinderspeelgoed in sy vrye tyd.

Hy sal lesers se boeke by hierdie geleentheid by Book Buddy, by The Village in Liliencronstraat, Eros, teken.

Die Keiser se Goud sal teen N$249 te koop wees en Bosbrand en Ander Verhale teen N$220.

Vir navrae, kontak Anya van Book Buddy by (061) 302 711 of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!