Ontmoeting van twee kulture

Die leerplan vir die Namibiese kinders wat hul skoolloopbaan in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek (DDR) begin het, was 'n uitdaging vir Duitse opvoeders.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht in Berlyn - Dit moes die nasionale karakter van beide die Namibiese en Afrika-kultuur insluit en respekteer, twee kulture meng sonder om van Namibiërs Duitsers of van Duitsers Namibiërs te maak.

Dr. Jürgen Krause, navorser en voormalige lid van die Akademie van Opvoedkundige Wetenskappe van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek (DDR) was nou betrokke by die samestelling van 'n leerplan vir die sowat 430 Namibiese leerlinge wat vanaf 1979 hul skoolopleiding in die voormalige DDR ontvang het.

Dit was 'n reusetaak met verskeie struikelblokke.

“Dit was 'n unieke projek in die sin dat dit twee kulture op só 'n manier moes laat saamsmelt, sonder dat die leerlinge vergeet waar hulle vandaan kom.”

Krause verwys na die drie pilare van kultuur – taal, historiese nalatenskap en ideologie.

“Kinders kom gewoonlik eers teen die einde van graad 3 met Engels in aanraking, met die DDR-kinders wat nie in hul moedertaal onderrig is nie,” sê hy. Die tweede is kennis van historiese nalatenskap.

“Deur die loop van die program het ons probeer om die Afrika-element van Afrika-geskiedenis in die leerplan te integreer, soos die geskiedenis van kolonialisme. Ons het nie net gefokus op die geskiedkundige verhouding tussen Duitsland en Namibië nie, maar ook geskiedenis in Afrika oor die algemeen en die bewusmaking van die vasteland as die wieg van die mensdom.”

Die derde pilaar is ideologie wat fokus op filosofie, geloof en godsdiens in die algemeen.

Volgens Krause het bittermin onderwysers kennis van skole in Afrika gehad. Net 'n paar kenners by die akademie het kennis oor die vasteland gehad.

“Onderwysers moes meer doen om die Afrika-kultuur en die vasteland te verstaan, dit was absoluut noodsaaklik om met hierdie kinders te werk.”

Onderwysers het ook nie verstaan die kinders kom na 'n Duitse skool, maar kry nie onderrig volgens 'n Duitse leerplan nie.

Protokol is egter deur Swapo verskaf wat aangedui het die leerplan moet die nasionale karakter van beide die Namibiese en Afrika-kultuur insluit en respekteer.

“Die moeilikheid was egter dat die kernleerplan van die DDR-skole nie verander kon word nie, omdat die doel was om die toekomstige Duitse sosialistiese jeug te onderrig.”

Krause se persoonlike verantwoordelikheid was om 'n manier te vind om die Afrika-element meer deel van die leerplan te maak om beide 'n internasionale karakter en 'n Afrika-identiteit te hê en wat die doelwitte van die DDR-leerplan weerspieël.

“Die uitdaging was om Duitse onderwysers wat nog nooit voorheen enigiets oor Afrika gedoen het nie, voor te berei om kinders in Suider-Afrikaanse kultuur en geskiedenis te onderrig.”

'n Swapo-verteenwoordiger in Oos-Berlyn het onder meer twee boeke deur Namibiese skrywers as bydrae tot die leerplan gegee, met die voormalige Namibiese staatshoof, Sam Nujoma, se boek, The Becoming of a Nation, wat ten volle in die leerplan geïntegreer is.

Die leerplan vir die DDR-kinders het vier hoofelemente bevat.

Dit sluit in die gebruik van vakke en onderwerpe wat nie verander hoef te word nie (wiskunde, wetenskap en chemie), maar wel by Afrika aangepas word, byvoorbeeld die gebruik van kilometer in plaas van myl.

Vakke waar min verandering nodig was, was Duits, geologie en kuns, terwyl ander soos geskiedenis, geografie, kuns en musiek basies verander moes word. Die vierde deel van die leerplan wat van nuuts af geskep moes word, was Engels.

Krause is in September 1984 opdrag gegee om met die onderrigprogram vir die DDR-kinders te help, 'n projek wat hy sê “voortdurend vorentoe beweeg het” en geëindig het toe die kinders Duitsland in 1990 verlaat het.

Vandag is daar geen rekord meer van die leerplan nie. Alle ­dokumente is in 1990 en 1991 versnipper toe die Duitse Akademie vir Wetenskappe in Oos-Duitsland sy deure moes sluit en “900 personeellede op straat beland het”.

“Daar was nie vir hulle die geleentheid om die materiaal saam met hulle te neem nie. Die voormalige regering het gevoel die Namibiese projek is nie meer 'n prioriteit nie en geen materiaal moet gestoor word nie. Al wat oor is, is die 45 kg dokumente wat ek met my kon saamvat.”

Dié dokumente is vandag die laaste oorblywende dokumente van die DDR-kinders se onderrigprogram in Oos-Duitsland en word in Namibië by die ministerie van veteranesake gestoor.

Volgens Krause was die basiese idee van die onderrig van die DDR-kinders “om 'n sosialistiese persoonlikheid” te vorm.

“Dit het 'n reuserol gespeel in die konteks van Namibië wat 'n onafhank­like, sosialistiese staat en samelewing sou word. Ons in die DDR het die platform verskaf vir die kinders om sosialistiese persoonlikhede te word.”

Dié sosialistiese ideologie het egter nooit wasdom in Namibië bereik nie en Krause erken “die vrugte van ons ideologiese projek het nie ryp geword nie”.

Hy betreur voorts die “skielike en voortydige" beëindiging van die projek en sê deel van die ooreenkoms was om aan die kinders ook die geleentheid vir beroepsgerigte onderrig te gee.

“Dis voortydig beëindig sonder dat die kinders hul skoolloopbane voltooi het. Ek dink die kinders moes eers matriek voltooi.”

Volgens Krause kon baie van die DDR-kinders wat na Namibië teruggekeer het, hul skoolloopbane voltooi en grade behaal en “betekenisvolle burgers” word. Vir baie ander was dit egter nie die geval nie.

Sowat 18 jaar nadat die projek geëindig het, het Krause besluit om 'n boek oor die projek te skryf.

“Baie wat oor die skool en die onderwysers gepubliseer is, was nie waar nie. Mites soos dat die kinders 'n Stasi (ministerie van staatsveiligheid)-projek was, dat die kinders militêre opleiding ontvang het en nie toegelaat is om kerk toe te gaan nie, is geskep, maar niks is oor die basis van onderrig gesê nie. Ek wou dié menings uitdaag.”

Volgens Krause is dit die eerste boek oor die DDR-kinders se daaglikse lewe en onderrig wat ­antwoorde bied op vrae oor die projek wat ná onafhanklikheid ontstaan het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!