Ontsouting: Duur, maar noodsaaklik
Ontsouting: Duur, maar noodsaaklik

Ontsouting: Duur, maar noodsaaklik

Kenners vergader oor waternood
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Ontsoute seewater is een van die enigste opsies om in Namibië se dringende waternood te voorsien, ongeag dat dit duurder mag wees. Vergeleke met die prys van ander kommoditeite, sal dié water egter steeds die goedkoopste wees.

Tydens die onlangse paneelbespreking aan die kus wat deur die Desert Research Foundation of Namibia (DRFN) asook die Hans Seidel-stigting gereël is, was verskeie kenners ten gunste van die gebruik van ontsoute seewater.

Die doel van die bespreking of ontsouting ’n volhoubare oplossing vir Namibië se waterkrisis is, was onder meer om nasionale besluitnemers te beïnvloed om die landwye waternood te takel en volhoubare oplossings te vind.

GOEDKOOPSTE KOMMODITEIT

Mnr. Dewald Duvenhage van die Swakopmundse munisipaliteit het gesê die kusgedeeltes ondervind ’n groot nood aan water, maar dat byvoorbeeld die hele Spanje op ontsoute seewater staatmaak en dat Doebai met dié water gebou is.

Hy het egter ook gesê ontsoute seewater sal N$30/m³ kos. Mnr. Willem Venter, die hoof van beplanning en waterbronbestuur van NamWater, het gesê water in Windhoek kos tans N$1,5c per liter. Hy het dié prys vergelyk met wat dit kos om ’n SMS te stuur, die huidige prys per liter van brandstof of melk.

“Of ons egter N$40/m³ of N$0,40/m³ betaal, water sal steeds die heel goedkoopste kommoditeit bly. Die oplossing gaan afhang van hoe dors ons kry, leierskap asook die waardetoevoegingsproses,” het Venter gesê.

Mnr. Petrus Muteyauli van die ministerie van die omgewing en toerisme het gesê Afrika ly aan probleme wat reeds baie jare gelede in ander dele van die wêreld opgelos is.

“Ontsouting is ’n metode wat reeds globaal die toets geslaag het en ons het die hulpbronne om dit te implementeer. Waarom huiwer ons nog? Ons moet seewater ontsout omdat ons nie meer ’n ander alternatief het nie,” het hy gesê.

Dr. Detlof von Oertzen van VO Consulting het gesê Namibiërs moet hulle afvra of ons net nasionale ontwikkeling wil hê solank dit reën. Hy het gesê hy is ten gunste van ontsouting omdat ons ’n oorvloed van natuurlike hulpbronne soos sonskyn, wind, grond en see het om hiermee te help.

Volgens hom kan finansiering deur middel van droogteversekering, die Groenklimaatfonds en ook byvoorbeeld die regering, munisipaliteite en myne verskaf word.

“Só sal Namibië sy kos-, water- en energiekrisis kan oorkom,” het Oertzen gesê.

WATERNOOD BY KUS

Mnr. André Burger van Walvisbaai se munisipaliteit het gesê die Kuisebakwifer en Omdelskema is die laaste keer in 2011 deur reënwater aangevul en tans kan hierdie bronne nie meer in die vraag na water voorsien nie.

“Die plaaslike owerhede is egter nie gereed vir ontsouting nie weens institusionele probleme,” het hy gesê.

Duvenhage het bygevoeg dat ’n verhoogde ontrekkingspermit vir die Omdel-skema onlangs goedgekeur is, wat rampspoedige nuus vir die skema is.

‘N TWEEDE AANLEG

Op vrae oor hoe die pomp van ontsoute water na Windhoek behartig sal word, is gesê die verskil in hoogte sal oorkom word deur veranderinge in die lengte van die pyplyn. Boonop sal water na die Von Bachdam gepomp word en nie reguit na Windhoek nie.

Dit sal behels dat ’n ontsoutingsaanleg soortgelyk aan Areva gebou moet word, wat sowat drie jaar sal neem en sowat N$2,7 miljard kan kos. Só ’n aanleg sal sowat 25 Mm³ water per jaar kan lewer en kan aangepas word soos die vraag verhoog.

’n Elektrisiteitsaanleg van 20 tot 25 kW sal by die kus benodig word terwyl nog so ’n groot aanleg nodig sal wees om water na Windhoek te pomp. Hernubare metodes om elektrisiteit op te wek, sal ingespan moet word en ’n kombinasie van onder meer windkrag en krag vanaf die nasionale netwerk sal gebruik word indien die son nie skyn nie.

Verteenwoordigers van die Areva-aanleg het gesê as nog so ’n aanleg gebou moes word, is daar min wat hulle anders sou doen.

Op die vraag oor hoe Areva tans water uit die see onttrek, is gesê dat die ontrekkingspunt een km ver in die see geleë is teen ’n diepte van 10 m. Die water word nie vanaf die grond of oppervlakte onttrek nie, maar vanuit die ‘middel vlak’ van die see, waar die water se gehalte die beste is.

Tydens die ontsoutingsproses word slegs sowat 25% van die water onttrek, terwyl alles anders weer in die see gepomp word. Die water wat terug in die see beland, het net ’n hoër konsentraat van byvoorbeeld soute en is dieselfde temperatuur as die see.

Ander voorstelle wat gemaak is, sluit in dat meer op die herwinning van water gefokus behoort te word en dat die waterprobleem tesame met die energie- en voedselkrisis in die land getakel moet word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!