Ontsoutingsaanlegte vir Grünau, Bethanie beplan

‘n Loodsprojek op twee dorpe sal watersuiweringstegnologie op die proef stel.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - NamWater beplan om waterbehandelingsaanlegte op Grünau en Bethanie aan te lê, waar ondergrondse water té brak vir menslike gebruik is.



Die bou van die ontsoutingsaanlegte op beide dorpe sal na verwagting vroeg volgende jaar begin en sal teen die helfte van 2020 in gebruik wees.

Die aanlegte moet ondergrondse water, wat in dié gebied ‘n hoë soutinhoud het, volgens nasionale standaarde suiwer sodat dit as drinkwater kan dien.

Die twee projekte word deur die Aanpassingsfonds gefinansier – ‘n Amerikaanse finansieringsagentskap wat onder die Verenigde Nasies (VN) se Raamwerk vir die Bekamping van Klimaatsverandering (UNFCCC) werksaam is.

Die aanlegte sal as loodsprojekte dien om tegnologie te toets en om te bepaal of soortgelyke aanlegte in klein gemeenskappe elders ingespan kan word.

Volgens verslae oor die aanlegte se omgewings- en maatskaplike impak (Esia), wat deur NamWater en KPM Environmental Consulting saamgestel is, behels die voorgestelde ontsoutingsproses om die water onder hoë druk deur ‘n omgekeerde osmosemembraan te stuur sodat fluoriede en ander elemente verwyder kan word.

Sonpanele sal die aanlegte van elektrisiteit voorsien.

Die aanlegte se afvalwater sal ‘n hoë soutinhoud hê, maar dit word nie as gevaarlik beskou nie.

Van die afvalwater sal weer deur die behandelingsaanleg gehersirkuleer word, terwyl die finale afvalwater met pype na verdampingsdamme naby die aanlegte gelei sal word.

KOMMER OOR TARIEFVERHOGINGS

Tydens konsultasies in nedersettings waar werkloosheid seëvier het gemeenskappe hul kommer daaroor uitgespreek dat die projekte onbekostigbare tariefverhogings kan meebring.

Die Esia-verslae dui aan die bedryfskoste om water by die voorgestelde ontsoutingsaanlegte te behandel, gaan duurder as die huidige waterverskaffingsproses wees.

Tog is hierdie vrese vir eers besweer.

Die Aanpassingsfonds sal die projekte tot die helfte van volgende jaar borg wanneer tariewe nie “meer sal verhoog as wat dit tipies oraloor Namibië verhoog nie”.

Daarná sal NamWater saam met die ministerie van landbou, water en bosbou aan ‘n tariefstelsel werk wat subsidies insluit.

Die landbouministerie is verantwoordelik vir enige tariefverhogings wat deur NamWater voorgestel word. Tariefverhogings word deur die kabinet goedgekeur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer