Ontsporing: Spoorlyn is môre weer oop
Dit is nog nie bekend hoekom die trein by Otjiwarongo ontspoor het of hoeveel die skade beloop nie.
Ronelle Rademeyer
Spoorverkeer na die Noorde sal hopelik teen môre kan hervat wanneer herstelwerk wes van Otjiwarongo afgehandel is.
'n Trein met 2 lokomotiewe en 17 waens, waarvan 14 met brandstof gevul was, het Saterdagoggend sowat 7 km buite dié dorp ontspoor. Die spoorlyn moet as gevolg daarvan oor 'n afstand van 180 m herstel word.
Mnr. Johnny Smith, hoofbeampte van TransNamib, het gister na afloop van 'n ter plaatse ondersoek gesê die verwagting is dat die spoorlyn teen môre weer oopgestel kan word.
Hy het bevestig die luukse private passasierstrein, Rovos Rail, is ook deur die ontsporing geraak. Dit kon net vorder tot by die Paresis-stasie, enkele kilometers vanaf die ontsporing.
Nampa berig die sowat 50 Australiese toeriste is per bus na hul volgende bestemming, die Etosha Nasionale Park, geneem.
Volgens Smith is dit nog nie bekend hoeveel dié ongeluk TransNamib gaan kos nie. Hy sê die meeste van die brandstof in die agt waens wat omgeslaan het, kon na 'n tenkwa oorgepomp word.
Brandstof het wel uit twee van die waens gelek. Volgens hom is die nodige stappe gedoen om die skade aan die omgewing te beperk.
“Ons sal teen die einde van die week 'n beter idee hê van hoeveel die skade beloop,” sê Smith.
Brandstof word intussen met padvervoer na geraakte binnelandse bestemmings geneem.
Die spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb is met 30 kg-spoorstawe gebou, terwyl die SADC-standaard 48 kg is.
Opgraderingswerk is die afgelope jare deur D&M Rail gedoen nadat verskeie treine in 2011 binne enkele maande onderweg na Otjiwarongo ontspoor het. Dit het egter net die vervanging van die 63 kg staaldwarslêers met betondwarslêers van oor die 200 kg behels.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie