Ontuis in jou heimat
Die verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) hier neffens my omskryf “heimat” só: “ s.nw. [~te] (Duits) plek/streek waar iemand vandaan kom; geboorteland; kontrei: Leipoldt se heimat was die Hantam.”
My heimat is hierdie pragtige, komplekse landjie aan die suidpunt van hierdie pragtige, komplekse vasteland.
Ek gee in geen stadium vir Donald Gemmerkop Trump gelyk dat dié deel van die wêreld anuslande is nie. Maar oor die heiligdom van daardie gedeelte van die menslike liggaam gesels ons op ’n ander dag.
Terselfdertyd gee ek wel vir pres. Hage Geingob gelyk die stamgebonde deuntjies wat te veel van ons deurgaans neurie, strek nie tot Namibië se vooruitgang nie. Dit bots teen harambee én ubuntu.
’n Groot gedeelte van my piepklein tribe is tog hier – enkele hartsmense by wie daar wedersydse geborgenheid is. (Die ruimtes waarbinne eensydigheid nog aan die orde van die dag is, raak goddank toenemend minder.)
Ek is mal oor hierdie land. Ek is mal oor die relatiewe mate van bestendigheid en vrede – al is dit te danke aan apatie. Ek is mal oor my moedertaal. Ek is mal oor die ongereptheid en veelvlakkige natuurskoon. Swakopmund se klotsende branders voed my siel.
Maar, en dis geen onlangse verwikkelinge nie, hoewel dit deesdae elke dag duideliker word, ek voel nie of ek hier hoort of behoort nie.
Ek voel ontuis in my heimat.
Op die menseregtefront, veral wat gayregte betref, doen hierdie land dit nie vir my nie.
Om gay te wees, is in ’n volmaakte wêreld ’n eensame uitdaging. Maar om gay te wees in hierdie uiters onvolmaakte en problematiese opset is op ’n goeie dag onaangenaam.
’n Mens sou reken as ’n gay mens hulself aanvaar, hul waarheid uitleef en eienaarskap van hul reis neem, die Bybelse meetsnoere vir hulle op lieflike plekke sal val en hul erfgebied verruim sal word.
Inteendeel. Allesbehalwe.
Meer as 90% van Namibiërs voer aan hulle is Christene en identifiseer dus met die evangelie wat onvoorwaardelike liefde verkondig.
In die praktyk lyk die prentjie egter beduidend anders: Van onvoorwaardelike liefde is daar binne geloofsfundamentalisme geen sprake nie. Haat en veroordeling gedy hier soos rassepanning nie eens tydens apartheid galop het nie.
Ek kan dink hoe moeilik dit moet wees om as gay én Christen in dié land te identifiseer. Dis geen prettige taak om ’n mens se christelike spiritualiteit met jou gay seksualiteit te versoen nie. Nie te midde van oorlog nie.
Die verwoesting wat geïnternaliseerde homofobie in dié land saai, laat nét bloed agter.
Om ’n relatief gesonde romantiese verhouding – ja, gay mense smag nie (ook) net na seks nie – in hierdie land met ’n relatiewe gesonde mens te hê, herskryf die omskrywing van ’n onbegonne taak.
Hier bestaan baie min ondersteuning vir ’n verhouding tussen mense van dieselfde geslag – nie tuis nie, nie op kantoor nie, nie in die kerk nie, nie op straat nie, nie in die nagklub nie en nie eens in die tronk nie.
Een van die grootste hindernisse is dat dié liefdesverbintenisse dikwels in geheimhouding gehul is. Met ander woorde, gay mense se ouers, sibbe, familie, vriende, kollegas én vyande weet dikwels nie eens dat hulle in ’n verhouding is nie. Gebroke harte ná bloederige breakups is gevolglik dikwels ook ’n staatsgeheim.
Ek is gatvol vir die donkerte. Ek het genoeg gehad van die geheimhouding. Ek is uitgekuier met die oordeel. Die haat en venyn doen dit nie meer vir my nie.
Oor die stand van ons ekonomie weet ek nie of finansminister Calle Schlettwein binnekort tydens die tertafellegging van die nasionale begroting meer lig kan werp as wat ons dolleë bankrekenings, blinkskoon koskaste en kerktoringhoë skuld ons daagliks herinner nie.
Hoe hierdie Namibiese wiel vasgegryp sal word – Jesus, the wheel needs taking – om die ellende om te keer, sal ek hopelik nie lank genoeg hoef te versuim om vas te stel nie, want ek is ontuis in my heimat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie