Ontvoerders spring tronkstraf vry
Ontvoerders spring tronkstraf vry

Ontvoerders spring tronkstraf vry

Trane van blydskap het gevloei ná vier Walvisbaaiers gehoor het hulle hoef nie tyd agter tralies deur te bring nie.
Francoise Steynberg
Erwin Leuschner op Swakopmund - Vier Walvisbaaise inwoners wat drie tienerseuns vyf jaar gelede ontvoer, vir ure teen hul sin aangehou en aangerand het, is Maandag boetes van N$13 000 elk, asook ’n opgeskorte vonnis elk opgelê.

Die vier is in Mei skuldig bevind op drie klagte van ontvoering, asook drie klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Trane van blydskap het in die Swakopmundse streekhof gevloei ná Logan Pretorius (30) en sy verloofde, Sandra Riobo (22), Ashley Andre January (25) en Curven Nathan Vries (26) tronkstraf vrygespring het.

Die vonnis is aansienlik ligter as die vyf jaar tronkstraf wat die aanklaer versoek het.

Landdros Gaynor Poulton het die vier op die drie klagte van ontvoering tot ’n boete van N$8 000 of drie jaar gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.

Op die drie klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, het sy die beskuldigdes tot ’n boete van N$5 000 of drie jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar.

Die vier is in Augustus 2014 in hegtenis geneem. Al vier beskuldigdes en die drie slagoffers het in die marathonverhoor van vyf jaar getuig, met verskillende weergawes van wat op daardie dag plaasgevind het.

Die saak spruit uit die voorval ná die hoofverdagte, Logan Pretorius, se hond Miklo op 29 Augustus 2014 dood in sy erf aangetref is.

Pretorius, wat homself as ’n hondeliefhebber beskryf, het ook gesien hoe die drie seuns “besig was om nog ’n hond te steel”.

Uit woede het hy die drie seuns saam met sy drie medebeskuldigdes gejaag, gevang, en hulle vir ure in sy garage toegesluit.

Daar is die slagoffers geslaan en geskop met Pretorius wat sy honde op hulle losgelaat het.

Bytmerke is aan die twee slagoffers se bene gevind.

Staatsaanklaer Teresia Hafeni het dit as “marteling” beskryf.

Die slagoffers is ook gedwing om soutwater te drink waarná hulle opgegooi het.

Verskeie teenstrydighede het in verklarings voorgekom oor hoe lank die seuns teen hul wil aangehou is, asook oor die erns van hul beserings.

Poulton het tot die gevolgtrekking gekom die aanklaer kon bewys die beskuldigdes het saam opgetree en die seuns was wel teen hul sin in die garage toegesluit.

“Jul dade is onaanvaarbaar, wat ook al die redes was. As die kinders ’n hond gesteel het, moes julle dit aan die polisie gerapporteer het en nie reg in eie hande geneem het nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg ’n hond se lewe kan nie met ’n mens s’n vergelyk word nie.

“Jul dade was wreed en onmenslik en julle sal nie wil hê enigiemand moet dit aan jul kinders doen nie,” het Poulton gesê met verwysing na Pretorius en sy verloofde, Riobo, (wat 17 jaar oud was ten tyde van die misdaad), wat saam ’n eenjarige dogtertjie het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!