'Ontvoerings' veroorsaak onnodig konsternasie
'n WhatsApp-boodskap wat rondgestuur word oor 'n beweerde ontvoering in Walvisbaai, is onwaar.
Leandrea Louw op Walvisbaai – Dit gons weer in die sosiale media oor 'n beweerde voorval van ontvoering en mensehandel in Tutaleni in die informele nedersetting Kuisebmond in Walvisbaai.
Die WhatsApp-boodskap wat rondgestuur word, impliseer dat 'n 13-jarige seun na bewering deur vier mans met messe gedreig en in 'n motor gedwing is. Volgens die boodskap was die seun Maandagmiddag op pad om sy hare te laat sny.
“Twee mans het met 'n silwer Toyota Corolla (Dankie Botswana) gekom en hom in die motor geboender en ongesiens weggery. Volgens die slagoffer was daar vier mans, van wie een 'n vuurwapen gehad het. Terwyl die verdagtes bestuur het, het hulle op 'n selfoon met iemand gekommunikeer en gesê hul plan was suksesvol en dat die pakkie môre in Suid-Afrika sou aankom (sic).”
Die boodskap lui verder dat die mans en die seun na Okahandja gery het en nadat hulle agter die winkelsentrum stilgehou het, het die slagoffer dit reggekry om te ontsnap en na 'n diensstasie te hardloop van waar iemand hom tot in Windhoek laat saamry het.
Die seun kon glo sy pa bel, wat toe met polisievriende gereël het om die seun veilig te hou totdat hy hom kon gaan haal.
Volgens die boodskap is verklarings afgelê deur diegene wat die slagoffer gehelp het en is die klaer aangeraai om 'n saak van ontvoering en mensehandel aanhangig te maak.
ANDER WEERGAWE
Volgens die bevelvoerder van gemeenskapsake in die Erongostreek, insp. Ileni Shapumba, is die polisie besig om die saak te ondersoek. Hy het die publiek ook gewaarsku teen die verspreiding van inligting wat nie geverifieer is nie.
Volgens Shapumba het die polisie vasgestel die feite verskil van dít wat berig is.
“Die voorlopige ondersoek het aan die lig gebring die slagoffer is nie ontvoer soos in die sosiale media berig is nie. Volgens die slagoffer het hy van Walvisbaai na Swakopmund geryloop met die geld wat hy vir die haarsny gekry het. Hy het omstreeks 15:00 'n saamrygeleentheid na Windhoek by die Engen-vulstasie in Swakopmund gekry.”
Die slagoffer het glo vir die bestuurder gesê sy gesin in Windhoek sal sy vervoerkoste dek, wat uiteindelik nie werklik gebeur het nie.
“Dít is ook in 'n verklaring bevestig deur die persoon (bestuurder) wat die kind laat saamry het.”
Shapumba sê maatskaplike werkers en die eenheid teen geslagsgeweld is besig met 'n ondersoek om uit te vind waarom die kind besluit het om van die huis af weg te loop.
'NEIGING'
Verskeie soortgelyke boodskappe het die afgelope maand in die sosiale media die rondte gedoen.
In een geval is 'n stemboodskap per WhatsApp rondgestuur oor 'n meisie wat na bewering byna ontvoer, of 'n slagoffer van mensehandel was, glo deur iemand wat 'n taxi bestuur het.
By verdere ondersoek het die taxi-eienaar egter gesê hy het haar per ongeluk met sy motor gestamp en het probeer om haar te help. Die saak is intussen tussen die meisie se ouers en die vermeende “ontvoerder” opgeklaar.
In April vanjaar het 'n plaaslike buurtwag 'n meisie uit 'n buitelandse voertuig “gered” nadat sy glo ontvoer is. Na wat verneem word, het sy die bestuurder self gekontak en 'n ander storie aan die buurtwaglede vertel.
Ná die voorval is 'n saak van verkragting teen die bestuurder aanhangig gemaak, maar nié een van ontvoering of mensehandel nie.
In nog 'n voorval het 'n 16-jarige meisie van Rehoboth vermis geraak in Walvisbaai, maar is twee dae later ongedeerd by 'n vriend se huis gevind. Sy het glo boodskappe aan haar ma gestuur waarin sy gesê het sy is in die moeilikheid.
Shapumba sê kosbare hulpbronne word vermors wanneer valse voorvalle soos hierdie ondersoek word. “Ons hanteer al ons sake dieselfde en maak gebruik van die gepaste hulpbronne om dit deeglik te ondersoek. Tog, met voorvalle soos hierdie word tyd en hulpbronne vermors wat elders beter benut sou kon word.”– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie