Onwettige aborsies floreer
Onwettige aborsies floreer

Onwettige aborsies floreer

'n Regskenner sê tronkstraf weens aborsie is barbaars omdat desperate vroue wat besluite oor hul liggame neem, sonder enige alternatief toegesluit word.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Minstens 74 mense is die afgelope vyf jaar in verband met onwettige aborsies in hegtenis geneem en een vrou dien tans tronkstraf weens 'n onwettige aborsie uit.

­Menseregteaktiviste beskryf inhegtenisnemings en vonnisse in dié verband as 'n ernstige skending van menseregte.

Volgens hulle hou die meeste ongewensde swangerskappe met die land se wydverspreide armoede, geweld en geslagsongelykheid verband.

“Die inhegtenisneming van vroue weens onwettige aborsies is ongrondwetlik. Daar is soveel kwessies wat vroue en meisies tot aborsie dryf,” sê me. Florence /Khaxas, 'n voorstander van Namibiese vroueregte.

Boonop het die Nami­biese Korrektiewe Dienste (NCS) ­bevestig 'n 35-jarige vrou is verlede jaar in die Suide in verband met aborsie in die tronk gestop.

Statistieke van die Namibiese polisie en korrektiewe dienste spesifiseer nie die omstandighede waarin die ­sogenaamde oortredings ­plaasgevind het nie – of die ­oortreders bystand in die ­beëindiging van 'n swangerskap verleen het en of hulle hul eie swangerskap ­beëindig het.

Die regskenner en menseregteaktivis, mnr. Norman Tjombe, sê tronkstraf vir vroue wat ongewensde ­swangerskappe probeer beëindig het, moet dringend hersien word.

Hy beskryf dit as “barbaars omdat ons desperate vroue wat besluite oor hul liggame geneem het toesluit, maar ons bied hulle geen ­voldoende ­alternatief nie”.

Hy sê ­inhegtenisneming en aanhouding in die verband strook met 'n wet “waarvan die grondwetlikheid twyfelagtig is”.



Op die kantlyn

/Khaxas sê huidige aborsiewette raak meestal minderbevoorregte vroue en meisies, en dié uit randgemeenskappe.

By 'n werkwinkel wat vandeesmaand oor vroeë en onbeplande swanger­skappe in Namibië gehou is, is ­tradisionele norme, lae vlakke van opvoeding, beperkte inligting en opvoeding oor voortplanting, ­seksuele en fisieke mishandeling en armoede as hoof­oorsake van Namibië se bykans 20%-swanger­skapkoers onder tienermeisies gelys.

Verder is aangekondig minstens 40% van swangerskappe onder meisies tussen 15 en 19 was die gevolg van verkragting of statutêre verkragting.

/Khaxas sê: “Inhegtenisnemings vir onwettige aborsies vererger dinge net. Die sosioëkonomiese ongelykhede wat vroue in die gesig staar het 'n impak op die besluite wat hulle neem. As ons kyk na die besluitnemingsmagte binne verhoudings van baie vroue in Namibië . . . kan hulle oor seks onderhandel? Is daar respek vir toestemming?”

Verskeie studies het al gewaarsku die gebrek aan toegang tot geboorte­beperking in 'n noodgeval en veilige, wettige aborsies veroorsaak juis 'n toename in babas wat ná geboorte agtergelaat word.

Adj.komm Kauna ­Shikwambi, ­nasionale ­polisiewoordvoerder, het onlangs ­bevestig tussen 2013 en 2019 het die polisie 97 mense in verband met die ­verberging van geboortes in ­hegtenis geneem.



Omslagtig

Hoewel Namibiese wetgewing wel voorsiening maak vir wettige aborsies onder ­omstandighede soos verkragting en waar swangerskap 'n gesondheidsrisiko inhou, is baie mense onbewus van dié uitsonderings.

Boonop word verkragting nie na behore aan­gemeld nie.

'n Studie getiteld Information and Women's Testimonies about Abortion in Namibia, wat in 2011 gepubliseer is, het 'n geval beskryf waarin 'n vrou in 2009 'n verkragting oorleef het, maar die HI-virus opgedoen het en swanger geraak het. Sy is glo nie toegelaat om 'n wettige aborsie te ondergaan nie, en daar is aan haar gesê sy sal in hegtenis geneem word.

Om die groen lig vir 'n wettige aborsie te kry, is 'n ingewikkelde, omslagtige proses.

Waar 'n vrou se gesondheid in gevaar is, verg dit twee dokters se toestemming, en in sommige gevalle 'n psigiatriese verslag.

In gevalle van verkragting word 'n polisieverslag en die toestemming van 'n landdros vereis.

Vrouens wat skuldig daaraan bevind word dat hulle 'n onwettige aborsie ondergaan het, kan tot vyf jaar se gevangenisstraf of 'n boete opgelê word, terwyl die verskaffers van aborsie vir drie maande toegesluit kan word of 'n boete opgelê kan word.

Die 2011-studie het lig gewerp op die gevaarlike metodes om ­ongewensde swangerskappe te beëindig.

Een vrou het aan navorsers gesê sy is op 12 verkrag en daar is vir haar gesê dit is haar skuld. Toe sy 15 was, het sy swanger geraak by 'n getroude man. Die man het die hasepad gekies en nooit weer met haar gepraat nie.

“Toe ek drie maande swanger was, het ek 'n klomp koerante in water saam met Sir Edwards en Royale (drank) gekook,” is in die studie berig.

Sy het die mengsel gedrink, verskriklike pyn ervaar en twee weke lank erg gebloei.

Toe sy hospitaal toe geneem is, is sy nie ondersoek nie en beweer sy het net parasetamol ontvang.

Haar swangerskap is wel in die proses beëindig.

Nog 'n vrou vertel haar vriendin is op 16 dood weens bloedverlies ná sy N$300 vir 'n onwettige aborsie betaal het.

Die prosedure het behels dat 'n ­skerpgemaakte draadhanger in haar ­opgedruk is.

Dié meisie se geheim is glo saam met haar dood, en selfs haar ouers het nie hiervan geweet nie.



Die syfers

Dianne Hubbard, van die Regshulpsentrum (LAC), het onlangs gesê hoewel statistieke oor ­onwettige aborsies nie geredelik be­skikbaar is nie, is dit steeds “'n ernstige probleem”.

Die jongste ­betroubare statistieke kom van 'n studie wat in 2006 gedoen is waarvolgens aborsie 20,7% van alle verloskundige komplikasies behels wat by hospitale in Namibië aangemeld word.

Die studie het bevind een uit 12 sterftes tussen 2004 en 2005 onder vrouens wat pas geboorte gegee het, het met onveilige agterstraataborsies verband gehou.

“Aangesien die meeste aborsies weggesteek word, sal ons nooit regtig weet hoe groot hierdie probleem in Namibië is nie,” sê Hubbard.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!