• Tuisblad
  • Sake
  • Onwettige tabakhandel floreer in arm gebiede
Onwettige tabakhandel floreer in arm gebiede
Onwettige tabakhandel floreer in arm gebiede

Onwettige tabakhandel floreer in arm gebiede

Die mark vir onwettige tabakhandel floreer in ­Suid-Afrika.
Sigarette word in informele nedersettings in Suid-Afrika teen 50c per sigaret of R10 per pakkie van 20 verkoop. Die aksyns op 'n pakkie sigarette is egter R15,52, wat duidelik beteken daar word nie aksyns betaal op die sigarette wat onwettig in die informele nedersettings verkoop word nie.

Die belastinginkomste uit die aksyns op tabakprodukte het intussen van die 2016-'17- en 2017-'18-boekjaar met sowat 10% gedaal, al het die bedrag aksyns per pakkie sigarette vir die tydperk met 8% gestyg. Tussen 2016 en 2018 het die getal sigarette waarop aksyns betaal is, met sowat 20% gekrimp.

Dit is alles gevolgtrekkings van navorsing deur die Universiteit van Kaapstad se Economics of Tobacco Control Project, gelei deur prof. Corné van Walbeek. Die projek hou belastinginligting dop in 'n poging om sigaretverkope en -verbruik in Suid-Afrika te monitor.

Die navorsing wys dat die afname in belastinginkomste van tabakprodukte daarop dui dat die mark vir onwettige tabak aansienlik gegroei het. Die smokkelhandel in tabak tref arm gemeenskappe boonop die ergste, want omdat dié sigarette soveel goedkoper is, raak dit makliker vir mense om te begin rook, meer te rook en dit maak dit vir hulle moeiliker om op te hou.

Van Walbeek sê in 'n verklaring die skerp afname in belastinginkomste en verbruik van belaste sigarette kan nie net deur veranderinge in mense se rookpatrone verduidelik word nie. Dit dui op 'n groot toename in onwettige tabakhandel.

Hy verskil skerp van die tabakbedryf se bewering dat die mark vir onwettige sigarette groei weens stygende aksyns. Volgens hom het dié mark ontstaan omdat die multi­nasionale tabakmaatskappye hul kleinhandelpryse so skerp verhoog het.

Hy beweer British American Tobacco het meer as 15 jaar – van die vroeë 90's tot 2010 – sy byna monopolistiese markposisie gebruik om sigarette teen toenemend hoër kleinhandelpryse te verkoop. Dit het tot massiewe winste gelei ondanks groot stygings in die aksyns.

Dit het mededingers volgens Van Walbeek aangespoor om die mark met laer pryse te betree. Sedert 2010 het hierdie nuwe toetreders die onderpunt van die mark binnegedring en 'n aansienlike deel van die internasionale tabakprodusente se mark­aandeel weggerokkel. Die gevolg is 'n baie gefragmenteerde en byna chaotiese mark, asook groter gesondheidsrisiko's vir van die mees kwesbare inwoners van die land.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!