Onwettige tabakhandel floreer

Die verslag wys ook op 'n duidelike verband tussen sluikhandel en buitelandse tabak.
Vida Booysen



Die onwettige sigaretmark het ontplof tydens die bewind van Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

'n Ipsos-verslag wat Donderdag deur die Tabakinstituut van Suider-Afrika (Tisa) uitgereik is, toon Suid-Afrika het een van die wêreld se grootste markte vir ­onwettige sigarette geword.

Die land verloor R7 miljard per jaar aan belastinginkomste uit die aksyns op tabakprodukte.

Sigarette wat teen minder as die minimum belasting op 'n pakkie verkoop word, is by drie uit elke vier informele verkooppunte te kry.

Dié verkope behels sowat 80% van alle tabakverkope in die land.

“Rokers kan sigarette vir so min as R5 vir 20 sigarette kry, wat duidelik toon dat belasting (van R17,85 per pak) nie betaal word nie,” sê Francois van der Merwe, voorsitter van Tisa.

Hy sê teen net 50c per sigaret is Suid-Afrika die land wat ­sigarette die goedkoopste vir nuweling­rokers kan aanbied. Goedkoop, onwettige sigarette is maklik ­beskikbaar vir kinders.

Die verslag wys ook op 'n duidelike verband tussen sluikhandel en buitelandse tabak.



SA TABAKBOERE

Suid-Afrikaanse tabakboere loop die risiko om, indien die tendens voortduur, uit die waardeketting gesny te word, waarsku Agri SA in sy reaksie op die verslag.

“Die implikasie van die bevindings strek verder as net tabak,” sê Pietman Roos, hoof van korporatiewe sake van Agri SA.

“As misdadige organisasies elke jaar miljarde rande verdien deur aksynsbelasting te omseil is die volgende stap om die waarde­kettings van ander kommoditeite te infiltreer.”

Die plaaslike tabakbedryf ondersteun meer as 108 000 poste, waaronder 8 000 tot 10 000 plaaswerkers. Tabak word in Noordwes, Limpopo en Mpumalanga gekweek.

Dit het in getuienis voor die Nugent-kommissie van ondersoek na probleme by die SAID aan die lig gekom dat onwettige sigarethandel tussen 2015 en 2017 die hoogte ingeskiet het.

Dit is sedert die SAID onder Moyane se leiding beveel het dat ondersoeke na en inspeksies van sigaretfabrieke en tabakhandelaars stopgesit moet word.

Dié maatskappye is gereeld by belastingontduiking van ­miljarde rande betrek.

Gene Ravele, vorige hoof van voldoening van die SAID, het getuig die besluit om die onwettige handel in sigarette te laat gedy, was “beplan”.

“Nadat ek weg is (in 2015) was daar geen inspeksies meer by ­sigaretfabrieke nie. Tot vandag toe nie. As jy inspeksies staak, sal mense doen wat hulle wil.”

Verder het Cecil Morden, voormalige hoofdirekteur van belastingontleding by die tesourie, in sy getuienis voor die Nugent-kommissie syfers gewys wat toon dat daar 'n groot onderverhaling op die invordering van belasting op tabak is.

In antwoord op die vraag van regter Robert Nugent oor waarom die inkomste uit tabakbelasting gedaal het, het Morden gesê dit kan toegeskryf word aan toenemende onwettige tabakhandel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!