Onwettige visvang in Zambezi duur voort

Kommer is uitgespreek oor onbeheerde visvang in die geslote seisoen met visbronne wat afneem.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Onwettige visvang met nette, insluitende sleepnette, wat dwarsdeur die jaar onwettig is, is by die Zambezirivier opgemerk.

Dit het woede onder bewaringsgesindes en lodge-eienaars ontlok, wat afhanklik is van die volhoubare oes van rivierbronne vir hul bestaan.

Foto's wat by Caprivi Mutoya Lodge & Campsite geneem is en op 12 Desember op ’n WhatsApp-groep versprei is, toon duidelik hoe vier mans nette gebruik om vermoedelik ’n tiervis te vang.

Visvang in die rivier word nie hierdie tyd van die jaar toegelaat nie omdat dit broeiseisoen is.

Vissers mag visse slegs vang en dan weer vrylaat.

Kundiges, wat verkies om anoniem te bly, het gesê die mans het waarskynlik sleepnette gebruik omdat daar nie genoeg vis in die rivier is om op die gebruiklike manier te werk te gaan nie.

“Elke jaar hierdie tyd word sleepnette gebruik omdat al die kurpers op is en dit die enigste manier is om tiervis te vang," het 'n bron gesê.

Me. Zina Swanepoel, eienaar en bestuurder van die Caprivi Mutoya-lodge, het gesê hierdie soort onwettige visvang kom "baie algemeen" voor.

“Ons rapporteer voortdurend die probleem, maar dit hou nie op nie. Die regering maak wette, maar stel nie belang daarin om dit af te dwing nie,” het Swanepoel gesê.

“Die vis vrek. Verlede jaar kon ons niks vang nie.”

Me. Mary Rooken van die Caprivi River-lodge het gesê die meeste van die onwettige visvang vind nie in die hoofrivier plaas nie, maar in die kanale waar daar nie baie verkeer is nie.

Mnr. Curt Sagell, mede-eienaar van Caprivi Houseboat Safaris, sê besighede langs die Zambezirivier het al druk op die ministerie van visserye en mariene hulpbronne vir beter wetstoepassing geplaas.

Hy het egter bygevoeg die ministerie se wetstoepassers se taak word bemoeilik omdat hulle dikwels nie oor genoeg hulpbronne beskik om die rivier te patrolleer nie.

Sagell het gesê beamptes het dikwels nie brandstof vir hul patrolliebote nie en dit word nie behoorlik onderhou nie. Hulle wil glo ook nie ná ure patrolleer nie, en dít is juis wanneer die onwettige visvang plaasvind.

“Daar is geen behoorlike stelsel om onwettige visvang te stop nie. Al die lodges aan Namibië se kant van die rivier het hul hulp aangebied, maar is traag om ná ure saam met ons te gaan sonder om daarvoor betaal te word. Hulle word nie vir werk ná ure betaal nie en dis juis die enigste tyd wat hulle hul werk kan doen," het Sagell gesê.

Sagell sê polisiebeamptes in die area is meer behulpsaam as die ministerie se beamptes.

Hy het ook gesê die meeste onwettige vissermanne is Zambiërs wat die grens saans onwettig oorsteek om in die vloedvlaktes aan die Nambiese kant van die rivier vis te vang omdat visvangtoestande daar gunstiger is.

“Daar is feitlik geen wetstoepassing deur die visserye-departement nie,” voeg Sagell by.

Die hulp wat lodges aangebied het, gaan volgens hom met gevaar gepaard omdat vissermanne dreigemente maak.

Sagell sê dit sal ernstige ingryping van beide die Namibiese en Zambiese kante verg om die afname in visbronne te stop.

Hy sê visbronne het aansienlik gedaal sedert 2012, en dit sluit 'n drastiese daling in tiervis in.

“Daar was 'n tyd wat jy 30 tot 40 tiervisse in 'n uur kon vang. Die situasie vandag is baie anders.

"Wat moet gebeur, is dat die ministerie van visserye se hoofkantoor die beamptes moet ondersteun en die hulpbronne wat hulle benodig, beskikbaar maak. Ons almal voel effe hulpeloos," het Sagell gesê.

Mnr. Bargrey Kapelwa, hoof van die visserye-inspektoraat in die Zambezistreek, het alle navrae na die ministerie se hoofkantoor verwys, wat nie gereageer het nie.

Bewaringspogings word wel aangewend deur die vestiging van visbeskermingsgebiede (FPA's) saam met bewaringsgebiede.

In Desember 2011 is reeds twee FPA’s saam met die Sikunga- en Impalila-bewaringsgebied gevestig.

Mnr. Bernhardt Esau, die minister, het in November 2015 die Sikunga- en Kasaya-kanaal as visseryreservate of beskermde gebiede verklaar in reaksie op 'n geskrewe inisiatief van die Zambezi-streeksraad en die Bukalo- tradisionele owerheid.

In hierdie beskermde gebiede is die gebruik van enige nette verbied en vissermanne mag visse slegs vang en vrylaat.

Volgens die ooreenkoms met die ministerie word bote slegs tussen 05:00 en 20:00 toegelaat en patrollies sal deur die bewaringsgebiede se gidse, wildwagte en diegene wat vis monitor, gedoen word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!