Oog vir ’n oog?

Hoe ons oor geslagsgeweld en genderrolle dink, móét verander voor die vlaag van moorde, verkragtings en aanrandings stopgesit kan word, meen kenners.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die mediadoyenne Gwen Lister is woedend.

En sy is nie die enigste een nie.

Veral op Twitter woed daar die afgelope week of wat ’n onheilspellende oorlog. Swaarde word gekruis en woorde val – kliphard en ongenaakbaar.

Aktiviste is veral in die virtuele ruimte en maar ook in nuuskantore, taxi’s en op straat slaags met die selfoonreus MTC.

Dié maatskappy het verlede Saterdag bekende Namibiese mans in ’n bokskryt by die Windhoek Buitekluboord byeen gebring om mekaar met die vuiste by te dam.

Ja, die Job Amupandas, Joseph Ailongas, D Naffs en Sam Shivutes van hierdie woeste Namibiese wêreld het mekaar gemoker.

Daar is ’n kamp van mense wat meen die inisiatief was in die kol.

Op sy beurt sê MTC die rede vir hul Knockout Project is juis niks anders as om geslagsgegronde geweld die stryd aan te sê nie. Om die gesprek aan die gang te sit.

’n MTC-woordvoerder, Fikameni Mathias, het vroeër dié week wal gegooi: “MTC was nog nooit bang om die norme van die samelewing uit te daag nie en dié projek is ’n bewys daarvan. Ons sal vir lank debatteer oor of boks die regte manier is om die vlaag van geslagsgeweld te beveg.”

Ure ná die geleentheid het ’n vrou, wat gevra het om naamloos te bly, in die sosiale media beweer haar minnaar en pa van haar kinders het die boksbesigheid saam met vriende by ’n kroeg op TV gaan kyk waarna hy haar by hul woning, haar veilige hawe, aangerand het.

Sy en Lister was deel van talle kritici wat gesê het MTC hits met hul bewusmakingsveldtog mans aan om verdere geweld te pleeg.

Nou hoe nou?

Mathias het te vertel hulle sluit slegs by die almal-koor aan wat dit eens is geslagsgeweld is ’n maatskaplike gruwel wat gepak moet word “en die begin van dié gesprek is net die begin van ons bydrae as ’n geheel”.

Die woordvoerder sê om ’n verandering teweeg te bring, moet iets gedoen word wat nog nooit vantevore probeer is nie. “Moet nooit bang wees om die vreemde een te wees en dapper genoeg om onbekende gebiede te deurtrap om verandering aan te help nie. Die MTC Knockout Project is presies dit.”

Volgens hom was hul idee uit die staanspoor om bewusmaking te skep en ’n nasionale debat van stapel te stuur.

Hy sê voorts: “Boks is meer as net die somtotaal van sy kleurvolle metafore. Boks bou veerkragtigheid. Boks leer ons introspeksie, bou selfvertroue en vereis tog menslikheid. Dit neem geweldige moed (en vertroue) om te veg of ’n opponent in die kryt in die oë te kyk. Ons kan nie dieselfde sê oor slagoffers van geslagsgeweld nie.”

Fikameni sê om iemand te lyf te gaan, is nie aanvaarbaar in ’n beskaafde samelewing nie. “Die enigste aanvaarbare plek is die kryt as jy die moed het om dit te doen.”

Hy sê dit is nie reg om te veronderstel sport, byvoorbeeld boks, kan nooit ’n verskil maak om geslagsgeweld hok te slaan nie. “Die feit dat ons boks gebruik het, is weens sy gewildheid en die bywoning (van die geleentheid) ’n bewys daarvan. Die bedoeling was altyd om die gesprek aan die gang te sit.”

Die Rwandees-gebore Namibiese romansier, rubriekskrywer en onderwyser, Rémy Ngamije, sê: “The master’s tools cannot be used to undo the master’s house.”

WOORDE WEK WOEDE

Ngamije is van mening geslagsgegronde geweld het sy wortels in die woord.

“Daarin lê die probleem en die oplossing. Die probleem is dít: Een gender gebruik deurgaans geweld of dreigemente om geweld te pleeg om die ander onder beheer te hou. Die oplossing: ’n Weloorwoë ondervraging van hoe is dit dat een geslag soveel mag bekom het of die toestemming het om voor die voet geweld te gebruik sonder enige tasbare gevolge vir sulke optrede.”

Hy meen dis ’n optimistiese vraag oor of daar ’n toename in geweld is of net ’n toename in die bewusmaking daarvan. “Daar is geen groter bewusmaking nie. Daar is geen bewusmaking om mee te begin nie. Niks het of is besig om te verander nie.”

Ngamije sê die vooruitsigte vir vroue is duister. “Hulle sal aanhou om Russiese roelet met hul lewe te speel, en met geluk, in plaas van tasbare maatskaplike verandering, sal hul lot in die lewe verander.”

Ondanks plakkate, ontelbare twiets, talle redaksionele kommentare, nasionale wekroepe tot aksie en presidensiële toesprake vir die beëindiging van geslagsgegronde geweld, het hy nog geen bewustelikheid by die deursneeman teengekom nie, sê hy. “Vir my spreek die wrede werklikheid boekdele: Mans verander nie, mans wil nie verander nie, en dus doen hulle nie.”

Hy sê hy glo nie daarin om probleme op te los deur slagoffers of oorlewendes te help nie.

“Die groot skande is die bestaan van sulke mense – hulle moet in die eerste plek nie slagoffers of oorlewendes wees nie. Die enigste manier om betekenisvol op te maak vir die toekoms, is om in die hede te vergoed en die toekoms te beskerm en te verseker. Die maatskaplike strukture help slagoffers en oorlewendes om te bestaan, maar daar bestaan min om geslagsgegronde geweld iets van die verlede te maak nie.”

Geweldenaars kan gehelp word deur pogings te fokus op die heropvoeding en herstrukturering van die samelewing “omdat mans en manlikheid die hoofoortreders is”, sê Ngamije.

Omdat die baas se toebehore nie ingespan kan word om die baas se huis ongedaan te maak nie, het pogings om tot dusver die fenomeen hok te slaan, nog min reggekry, sê hy. “Daar is geen manier dat stelsels van onderdrukking hulself kan ontmantel nie. Hulle sal eerder maniere vind om die stryd tot medelid te kies, om van die hoofkwessie af te wyk en om pogings om die status quo te verander, te ontspoor. Met geslagsgegronde geweld sal ernstige ondervraging van die maatskaplike, kulturele, ekonomiese, politieke en geloofsfaktore wat aanhou om een gender bo ’n ander te bemagtig, een ding onthul: Die ganse struktuur moet van onder af herdink word – dít is ’n rewolusie. Pogings gaan aanhou misluk solank oortreders toegelaat word om die gesprek te vorm en te rig.”

Volgens Daphney Goagoses, ’n Windhoekse onderwyser wat dikwels te doen het met kinders wat in gewelddadige huise grootword, spruit geslagsgegronde geweld uit ’n gebrek aan opvoeding oor kommunikasie van kwessies wat met emosies verband hou.

Sy meen die aantal gevalle het nie noodwendig toegeneem nie, maar bewusmaking het wel.

Goagoses sê indien slagoffers nie gehelp word om die trauma te verwerk nie, veroorsaak hulle dikwels self verdere pyn. “Hulle moet gelei word om nie op diegene na aan hulle daardie pyn en haat te projekteer nie.”

Daar is net salf aan te smeer indien oortreders mans genoeg is om die skade wat hulle aanrig van aangesig tot aangesig te aanskou, te besef en te verstaan, sê sy.

Goagoses sê sy weet nie hoekom pogings om die maatskaplike euwel te bekamp, geen noemenswaardige vrugte afwerp nie.

’n Sosiale aktivis, John Lenga, sê geslagsgegronde geweld vier hoogty daar waar ’n gebrek aan genderdinamika koning kraai. “Lande soos Namibië is nog baie vasgeval in hul weë om te glo mans en vroue moet volgens rigiede, maatskaplike norme lewe wat nie ons veranderende omstandighede weerspieël nie.”

Hy sê mans was duidelik nie gerat vir die veranderende geslagsrolle nie. “Wat ons nie oor die afgelope paar dekades gedoen het nie, is om mans voor te berei vir die talle verskillende uitdrukkings van manlikheid wat hulle kan omarm soos ons met vroue gedoen het nie. Ons het meisies geleer dat hulle kan uitgaan en die wêreld verower ongeag wie sy is, maar vergeet om vir seuns te sê dat hulle enige tipe man kan wees wat hulle wil.”

Lenga sê “ons het ’n Namibië van mans wat maklik vroue verkwalik wanneer hulle onvoldoende voel, maar terselfdertyd het ons hemelhoë aantalle selfdoodgevalle en die meeste is mans. Mans is die grootste oortreders – duidelik selfs teen hulleself.”

Volgens hom is die wortel van die kwaad die hedendaagse deursneeman se psige “en hoe dit geraak word deur die pyn wat hy geleer is om te ignoreer”.

GLO HULLE

“In my ervaring, wanneer iets so onwerkliks gebeur, wil slagoffers eenvoudig geglo word soos hulle deur die genesingsproses gaan. Ons moet verstaan dat dié soort van geweld vreet aan die waardigheid van die persoon vir ’n lang tydperk indien dit nie aangespreek word nie. Ons moet daar wees vir mekaar en waak oor hoe ons daaroor praat. Soms lug ons roekeloos en negatief menings sonder om te besef daar kan ’n slagoffer in dieselfde vertrek wees en ons kwetsende opmerkings hoor.”

Lenga kry spoed: “Menings, soos ‘vroue wat deur hul mans geslaan word, is dom’ of ‘’n man wat verkrag is, is nie regtig ’n man nie’ kan ’n groot hoeveelheid skade aanrig.”

Hy meen oortreders is dikwels self slagoffers wie se stem nooit gehoor is nie. “Hierdie is mense wat onder onveilige omstandighede grootgemaak is, wat aaklige invloede gehad het, tekort geskiet het aan liefde.”

Mans moet aangemoedig word om hulself beskikbaar te stel vir gesprekke met maatskaplike werkers en alternatiewe vorme van psigoterapeutiese ingryping, sê hy.

Lenga sê hoewel dit moeilik is om ’n mens se gedrag te verander, is dit beslis nie onmoontlik nie. “MTC het onlangs ’n geleentheid gehou wat daarin geslaag het om mense aan die praat te kry, en dit maak op sy eie ’n verskil. Hoe groot daardie verskil is, hang af van hoe lank ons die gesprek kan voortsit.

“Ons moet wegbeweeg verby die verwagting dat instellings ons sal red en die verantwoordelikheid in ons eie hande neem as inwoners as ons werklik omgee vir die saak.”

Hoofinsp. Itetila Shapaka van die polisie in die Khomasstreek sê ook die oorsake van geslagsgegronde geweld is veelvoudig.

Onder meer, sê hy, hou dit verband met ’n meerderwaardigheidskompleks, kulturele geloofsoortuigings, emosionele onbestendigheid, portuurdruk en maatskaplike invloede.

Volgens hom toon misdaadstatistiek ’n effense toename in geslagsgegronde geweld wat gepaard gaan met verhoogde bewusmaking oor die kwessie.

Hy meen meer kan beslis gedoen word – veral om die evangelie teen geweld in landelike gebiede te verkondig.

Shapapa sê dis belangrik om slagoffers en oorlewendes aan te moedig om te praat. Hulle word dikwels verder deur die samelewing gekasty, wat hul monde snoer. Volgens hom moet hulle aangeraai word om te praat sodra rooi vlae blyk.

Die senior polisiebeampte sê korrektiewe instellings moet meer op rehabilitasie fokus “om ootreders by te staan om hul pad terug in die samelewing te vind”.

PATRIARGIE EN VROUEHAAT

Die Kaapse seksopvoeder en genderaktivis Delene van Dyk se standpunt tref soos ’n vuishou: “Afrika is gemarineer in vrouehaat.”

Uit Kenia gee die skrywer, joernalis en aktivis Kevin Mwachiro haar gelyk: “Ek dink dit is gesetel in ’n lae selfbeeld; dis gesetel in patriargie; dis gesetel in vrouehaat; dis gesetel in ’n slegte opvoeding, jy weet.”

Mwachiro sê daar móét gekyk word na geestesgesondheid “oor hoekom mense, veral mans, gewelddadig word. Ek dink nie dis normaal vir enigiemand, hetsy ’n man of ’n vrou, om geweld teen iemand anders te pleeg nie.”

Syns insiens is magsgebruik ter sprake “omdat jy dink jou gender is verhewe bo dié van ’n ander. Dis nie reg nie – dis verkeerd. Dis tragies.”

VEILIGE HAWENS NODIG

Mwachiro sê plekke van veiligheid moet bo-aan die prioriteitslys wees waar slagoffers “gelief kan voel en dat die geweld nie hul skuld is nie”.

Hy meen dis een ding om te sê iemand wat ten prooi val van ’n geweldenaar, moet die persoon verlaat. “Maar waarheen? Ons moet hulle leer om hulleself te beveilig.”

En hoe help ’n mens die oortreders? “Ek wou aanvanklik nie dié vraag beantwoord nie. Ons moet hulle tot verantwoording roep. Jy kan nie dit doen nie. Dis verkeerd. Julle’t geen reg nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer